Skitterend Poorte: Rdpt 33-15 Tukkies

Eerstespan rig waarskuwing aan Brakpan na spoggerige sege oor Tukkies.

Mooi so, Poorte en vat so, studente.

Roodepoort Rugbyklub se eerstes het bewys dat hulle ‘n span is om mee rekening te hou en het ‘n waarskuwing aan Brakpan gerig na ‘n oortuigende oorwinning van 33-15 oor Tukkies op Vrydagaand 26 Julie.

Die sege oor die Varsitybeker- en Blou Bul-kampioen is Poorte se elfde oorwinning op ‘n streep en die derde teen ‘n universiteitspan vanjaar. Daar is nou geen twyfel dat Poorte enigiemand op ‘n gegewe dag kan klop nie, en dat hulle enduit kan gaan.

Tukkies is beslis deur Roodepoort se groen masjien oorrompel. Die oorwinning was selfs beter as die een oor UJ in April vanjaar en nog beter as daardie onvergeetlike een van 19-18 oor NWU-Pukke in 2011.

Ja, Clayton Blommetjies, Handré Pollard en al daardie sterspelers wat die Varsitybeker vroeër vanjaar ingepalm het was dalk nie in aksie nie, maar die telbord wys Roodepoort 33 en Tuks 15.

Meer indrukwekkend is dat die Sables (Poorte se tweedespan) vir Fezales (Tukkies se tweedespan) ook met ‘n telling van 24-21 geklop het. Die derdespanne het 20 elk gelykop gespeel.

Brian Armitage, afrigter van Poorte se eersterugbyspan het na die wedstryd met ‘n Colgate-glimlag gesê, “Dit was een van ons beste vertonings tot nog toe. Die manne het ingeklim en goed verdedig. Ons was geduldig op die aanval en het ons kanse gebruik.”

Die ander afrigter van die span, Jorge Carvalho meen, “Ons is vroeër vanjaar ‘n goeie rugbyles deur die einste studente geleer en het met meer as 50 punte pakgekry, maar vanaand was dit ‘n ander storie. Dit wys jou net hoe ons as ‘n span verbeter het.”

Na die wedstryd was dit duidelik dat Tukkies in ‘n taai kragmeting betrokke was toe die spelers mank-mak uit die kleedkamer na hul motors toe gestap het.

Die wedstryd was omtrent ‘n oorlogsone en daar was keer op keer by ‘n losgemaal of nadat die fluitjie geblaas het, ‘n onderonsie tussen spelers.

Die enigste negatiewe aspek van die kragmeting vir Poorte was dat hulle nie ‘n bonuspuntdrie kon kry nie.

Die groot vraag is nou of Poorte vir Brakpan kan klop aangesien hulle vroeër vanjaar met 39-13 in die Gemeenskapsbeker slae teen hulle gekry het.

Die sappige kragmeting vind op Saterdag 3 Augustus óf aan die Oos-Rand of by Ellis Park plaas. Aangesien Poorte 2-0 agter teen Brakpan is, kan die kragmeting as ‘n wraakwedstryd beskou word.

Gaan wys hulle, Poorte!

Puntemakers:

• Drieë: Gerhard Scholtz (1), Nicky Kritzinger (1) and Jesse Geyer (1)

• Doelskoppe: Hennie Oosthuizen (3)

• Strafskoppe: Hennie Oosthuizen (3)

• Skepdoel: Hennie Oosthuizen (1)

Daar is meer klubuitslae op die Scoreboard.

Ander uitslae in die Predator-reeks die afglope naweek:

Beker:

• Raiders 40-19 Boksburg

• Centurion 34-22 Pukke

• Oostelikes Eagles 10-24 Wits University

• Rustenburg Impala 105-0 NWU-Vaal

• Pirates 31-45 UJ

• Harlequines (Pretoria) 26-54 Pretoria Police

Plaat:

• Springs 27-39 Wanderers

• Randfontein 34-40 Naka Bulle

• TUT 43-13 Diggers

• Alberton 32-13 Kempton Wolwe

Exit mobile version