School sportSport

Kwaggas nou die konings in Laerskool-rugby

Die eersterugbyspan van Laerskool Helderkruin, beter bekend as die Kwaggas het op Woensdag 19 Junie geskiedenis gemaak deur hul eerste Goue Leeus titel ooit te verower. Dit toe hulle Laerskool Florida op die mees dramatiese wyse, danksy ‘n strafskop in die doodsnikke, in eindstryd vir Groot Skole (A-liga) met 20-17 geklop het. Dis ‘n jammer …

Die eersterugbyspan van Laerskool Helderkruin, beter bekend as die Kwaggas het op Woensdag 19 Junie geskiedenis gemaak deur hul eerste Goue Leeus titel ooit te verower.

Dit toe hulle Laerskool Florida op die mees dramatiese wyse, danksy ‘n strafskop in die doodsnikke, in eindstryd vir Groot Skole (A-liga) met 20-17 geklop het.

Dis ‘n jammer dat skole-rugby op dié vlak vir slegs 50 minute (25 minute ‘n helfte) aangaan, want wat ‘n souserige en opwindende kragmeting was dit nou nie.

Die wedstryd was ‘n wipplank een, met eers Florida wat die voortou geneem het toe hul senter KC van Rooyen reg onder die pale gaan druk het. Die Kwaggas is toe terug in die wedstryd danksy hul yster agsteman, Tristan Dillisear se pragdrie.

Florida sê toe aikona en kon weer die voortou neem toe hul vleuel, Davan du Plessis van sy eie kwartgebied af deurhardloop het vir ‘n drie in die hoek. Tristan het kort hierna die Helderkruin-ondersteuners en sy span hoop gegee toe hy vir sy tweede drie oorgeduik het maar die verbroude doelskop het die Kwaggas steeds met twee punte laat agterloop teen lemoentyd.

En glo dit of nie, geelkaarte is deel van die spel op dié vlak. Florida se stut, bekend as Duimpie (Damian Carlitz) is juis met so een van die veld af gestuur vir ‘n gevaarlike duikslag op ‘n Kwagga.

In die tweede helfte en skrale agterstand was dit toe die Kwaggas wat eerste punte kon aanteken en vir die eerste keer voorgeloop het danksy nog ‘n pragdrie, die keer deur die buitesenter, Camron Jansen van Vuuren. Met die doelskop wat nie suksesvol oor is nie het Florida geweet die agterstand is maar slegs drie punte. Hul goeie spel is toe beloon met ‘n strafskop wat sake 17-elk gelykop gebring het.

Ongelukkig vir Florida het te veel foute daartoe gelei dat die Kwaggas naby hul doellyn kon boer, en met al die druk het die skeidsregter besluit om Florida voor die pale reg by hul doellyn te straf. Die Kwaggas se binnesenter, Conrad van Dyk het geen fout gemaak om die drie punte oor te klits nie wat sy span laat voorloop het en die oorwinning te verseker Dit was dit.

Maak g’n fout nie, die Kwaggas is ‘n meneer van ‘n span en hul uitslae spreek boekdele. In Vanjaar se rugbyseisoen het hulle slegs een kragmeting, teen Kenmare verloor uit 30 wedstryde in totaal. Die Kwaggas moes juis die einste Kenmare in die half eindstryd klop om te kon deurdring.

Die Kwaggas word deur Jaques Breet en Riaan van der Watt afgerig.

Related Articles

Back to top button