Letters

Enige een kan ‘n held wees

Ek ken heelwat alledaagse helde in my lewe en ek het groot bewondering vir hulle; hulle inspireer my om ook elke dag my beste te probeer om vir iemand anders ‘n held te wees.

Dit is nou amper ‘n maand vandat die Springbokke hul name in die geskie-denisboeke geskryf het toe hulle die William Web Ellis trofee vir die vierde keer lig. Elke speler het met hierdie vertoning onmiddel’ik ‘n held geword waarna oud en jonk op kyk.

Dit was duidelik in die videos wat wyd op sosiale media versprei is; van die sewejarige Desmond Koolen wat sy helde nie net kon ontmoet nie, maar ook toespreek en die jong Siya Dlamini wat sy held Eben ‘Elizabedi’ Etzebeth se hand kon skud tot by die 13-jarige Themba Dengura wat, nadat hy ‘n gedig vir sy rolmodel Siya Kolisi neergepen het, ‘n videoboodskap van die Springbokkaptein af ontvang het.

Wat is die definisie van ‘n held?

Volgens die HAT kan ‘n held op twee maniere beskryf word:

1. Dit is iemand wat deur dade van moed en dapperheid uitblink, wat nie bang is nie, veral iemand wat sy lewe in gevaar stel op die slagveld of daar sterf; onverskrokke en dapper, krygsman, teenoor lafaard.

2.Iemand wat hom of haar buitengewoon onderskei deur moed, grootste dade, vasberadenheid, sieleadel in verband met een of ander werk of onderneming; iemand wat bewonder of vereer word weens sy of haar prestasie of edele eienskappe, ‘n held is hy of sy wat hulle opoffer vir ‘n groot plig of gedagte.

Wanneer ek na hierdie definisies kyk, is daar vele voorbeelde van helde wat by my op kom; Wolraad Woltemade en sy dapper perd wat hulle lewe gegee het om talle skipbreukelinge se lewenes te red, of Racheltjie De Beer wat haar lewe opgeoffer het om dié van haar boetie te red.

Ons wil nie almal hierdie tipe helde wees nie, maar soos alles in die lewe kry jy heldedade in verskillende vorms en groottes en ek glo dat elkeen van ons ‘n held in ons eie reg kan wees. ‘n Heldedaad hoef nie iets groot of skouspelagtig te wees nie, dit kan iets kleins wees soos om vir iemand wat honger is ‘n bord kos te vat, op te staan vir die outjie wat geboelie word (al is jy self ‘n slagoffer van ‘n boelie) of selfs net jou liefde en ondersteuning aan iemand te bied wat deur ‘n moeilike of hartseer tyd gaan en sukkel om kop bo water te hou.

Kom ons probeer om hierdie week ‘n held vir iemand te wees, al is dit net met ‘n klein gebaar, ‘n vriendelike woord of daad.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button