LettersOpinion

Daar is ‘n held in elkeen van ons

Daar is soveel helde in my lewe wat ek nie net bewonder nie, maar wat my ook inspireer om my beste te gee om vir iemand ander 'n held te wees.

Wanneer jy vir iemand vra wat hulle definisie van ‘n held is, word name soos Superman, Batman, Ironman, Spiderman of selfs die Hulk baie gou opgenoem. Ek glo die rede hiervoor is die feit dat hierdie helde almal oor een of ander super krag beskik wat hom of haar bo die gewone ou laat uitstaan.

Hierdie definisie van ‘n held is nie noodwendig verkeerd nie, want tegnies is dit wat ons geleer is ‘n held moet wees.

Volgens die HAT-woordeboek kan ‘n held op twee maniere beskryf word:

1. Dit is iemand wat deur dade van moed en dapperheid uitblink, wat nie bang is nie, veral iemand wat sy lewe in gevaar stel op die slagveld of daar sterf; onverskrokke en dapper, krygsman, teenoor lafaard.

2.Iemand wat hom of haar buitengewoon onderskei deur moed, grootste dade, vasberadenheid, sieleadel in verband met een of ander werk of onderneming; iemand wat bewonder of vereer word weens sy of haar prestasie of edele eienskappe, ‘n held is hy of sy wat hulle opoffer vir ‘n groot plig of gedagte.

Wanneer ek na hierdie definisies kyk, is daar vele voorbeelde van helde wat by my op kom; Wolraad Woltemade en sy dapper perd wat hulle lewe gegee het om talle skipbreukelinge se lewenes te red, of Racheltjie de Beer wat haar lewe opgeoffer het om dié van haar boetie te red.

Ons wil nie almal hierdie tipe helde wees nie, maar soos alles in die lewe kry jy heldedade in verskillende vorms en groottes en ek glo dat elkeen van ons ‘n held in ons eie reg kan wees. ‘n Heldedaad hoef nie iets groot of skouspelagtig te wees nie, dit kan iets kleins wees soos om vir iemand wat honger is ‘n bord kos te vat, op te staan vir die outjie wat geboelie word (al is jy self ‘n slagoffer van ‘n boelie) of selfs net jou liefde en ondersteuning aan iemand te bied wat deur ‘n moeilike of hartseer tyd gaan en sukkel om kop bo water te hou.

Ek ken heelwat alledaagse helde in my lewe en ek het groot bewondering vir hulle; hulle inspireer my om ook elke dag my beste te probeer om vir iemand anders ‘n held te wees.

Tot volgende week, bly veilig, en pas mekaar mooi op …

Related Articles

Back to top button