LettersOpinion

Moeg vir telebemarkers? Dit is wat jy kan doen …

Almal van ons het al gewens dat ons net van daardie lastige telebemarkers ontslae kan raak, en met hierdie nuttige wenke kan jy!

Die uitvinding van die sellulêre foon het beslis ons lewens op baie vlakke vergemaklik, maar daar is een ding van hierdie toestel wat ek glo elkeen van ons grensloos irriteer, en dit is die feit dat mense glo hulle het nou onbeperkte toegang tot jou en jou tyd.

Ek praat hier spesifiek van telebemarkers wat jou enige tyd van die dag (of nag!) bel en een of ander wonderlike produk aan jou wil verkoop. Hierdie produkte kan enigiets wees van ‘n ekstra selfoonkontrak tot ‘n Platinum Life-polis, en bewaar jou siel nou as jy vir hierdie persoon sê, “Nee dankie, ek stel nie belang nie”.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het begrip daarvoor dat hierdie persoon ook maar net, soos ek en jy, hulle werk doen, maar genade, ek het al male sonder tal gewonder presies waar hulle my nommer in die hande gekry het!

Ek het so ‘n bietjie op die internet gaan rondsnuffel, en hierdie skreeusnaakse wenke opgespoor oor hoe om te verseker dat jy die volgende telebemarker wat jou skakel, se grootste nagmerrie kan wees!

1. As hulle vra, “Hoe gaan dit?” vertel hulle en sê die volgende, “Ek is so bly jy vra, want niemand gee meer vir my om nie. My artritis vreet my op, ek het blaasprobleme, my rug is seer en ek kry sooibrand. En my hond is gister dood.”

2. As sy sê sy is Cathy van ACD Bpk, vra haar hoe mens haar naam spel. Vra dan hoe jy die maatskappy se naam spel, asook die adres, wanneer en deur wie dit gestig is, hoe lank sy al daar werk en hoeveel mense by die maatskappy werk.

3. Gee ‘n uitroep van verbasing: “Cathy! Is dit jy? Liewe hemel, hoe gaan dit?” Dit sal Cathy ‘n paar oomblikke laat wonder waarvandaan julle mekaar ken.

4. As Cathy wil hê jy moet aansluit by die Kring vir Familie en Vriende, antwoord in ‘n sinistêre stem, “Ek het geen vriende nie … wil jy my vriend wees?”

5. As hulle aanbied om jou geld te leen, sê jy is pas bankrot verklaar en kan definitief doen met geld.

6. Sê vir die telebemarker jy is in “huisarres” en vra of hy of sy dalk vir jou ‘n bottel brandewyn en ‘n kas bier kan bring.

7. Laat die telebemarker sy of haar hele storie vertel, en vra dan of hy of sy met jou sal trou omdat jy so eensaam is. As hy of sy dan heeltemal uit die veld geslaan is, sê daar is geen manier waarop jy jou kredietkaart se nommer aan ‘n vreemdeling sal verskaf nie.

8. Sê jy is op die oomblik baie besig en vra hulle dan of jy hul huisnommer kan kry sodat jy kan terugbel. As die antwoord nee is, sê, “Ek lei af dat jy nie wil hê dat iemand jou by jou huis moet pla nie, reg?” As hy of sy saamstem, sê, “Wel, ek skat jy weet nou seker hoe ek oor die saak voel”.

9. Maak asof jy vas onder die indruk is dat dit eintlik jou vriendin Lulu is wat bel en sê, “Komaan, Lulu, ek weet dis jy wat bel! Hoe gaan dit nog met jou ma wat so siek was?”

En die belangrikste wenk …

10. Vra hulle om baie stadig te praat sodat jy elke woord kan neerskryf.

Tot volgende week, bly veilig en kyk uit vir mekaar …

Related Articles

Back to top button