LettersOpinion

Gevorderde tegnologie, luier gebruikers

'Ek is oortuig daarvan dat al die tegnologie van vandag, die mensdom net luier (en dalk ook dommer) maak'.

Ek weet nie of ek besig is om oud te word nie, maar ek sukkel deesdae vreeslik om te verstaan wat ek lees, veral plasings op die onderskeie sosiale media-platforms.

Dit gebeur nou daagliks dat ek, wanneer ek iets op soiale media raaklees, eers na ‘n lang ruk die plaser se vraag (of mening wat gegee word) verstaan. Partykeer gee ek maar net moed op, omdat ek bang is my brein mag dalk in die fetusposisie inkrul en weier om verdere instruksies van my oë af te gehoorsaam.

Ek sê nie dat ek perfek is en glad nie spelfoute maak of leestekens uitlaat nie, maar party goed wat ek sien, laat my oë sommer skeel trek, en laat my glo dat vandag se tegnologie en sosiale media ons net lui maak, wat daartoe lei dat ons ook dommer voorkom. My vraag is eenvoudig, lees mense nie weer hul plasing deur voordat hulle dit die wêreld instuur nie? Of, as hulle dit wél deurlees, is hulle spelling dan so swak dat hulle glo die plasing maak sin? Die ander vraag is, wanneer het dit normaal geword dat jy ‘n hele paragraaf skryf (of tik) sonder een enkele leesteken of hoofletter? Voordat jy dalk dink ek glo ek is ‘n taalsnob, ek sien hierdie tipe plasings in albei tale, en die gevoel wat ek ervaar, is dieselfde.

Alhoewel ek nou nie ‘n kenner is nie, glo ek dat hierdie tipe goed gebeur omdat ons nie meer lees nie, en ook omdat ons kinders nie meer geleer word om ‘n liefde vir lees te ontwikkel nie. Daar word soveel tyd spandeer voor skerms, hetsy televisie, selfone of rekenaars. Ja, jy mag dalk nou vir my sê dat hierdie toestelle ook vir lees gebruik kan word, maar wat is die kwaliteit van hierdie leesstof? Die jonger generasie gesels met mekaar deur middel van die verskillende sosiale media-toepassings, en leer mekaar se spelgewoontes en skryfstyle aan. Die feit dat hulle ook baie ongeduldig is en alles altyd onmiddellik gedoen wil hê, het ook al daartoe gelei dat hulle sommer vinnig ‘n afkorting vir ‘n woord skep en dit as algemene spelvorm gebruik.

My gevoel is, hoe meer gevorderd ons tegnologie word, hoe luier (en ook dalk dommer) word die gebruiker. Miskien moet ons weer terug beweeg na die tye van woorde se spelling en betekenisse in die woordeboek opsoek, volsinne met leestekens gebruik, en luilekker op die bank opgekrul lê met ons neuse in ‘n boek.

Tot volgende week, wees goed vir mekaar en wees veilig …

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button