Meer skole is die oplossing

Die feit dat talle provinsies nie genoeg skole het om leerders te akkommodeer nie, dui daarop dat die onderwysdepartement onbekwaam is.

• Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum skryf:

Ons is bekommerd oor die groot hoeveelheid leerders wat nie plek in skole het in 2017 nie.

Die feit dat talle provinsies nie genoeg skole het om leerders te akkommodeer nie, dui net weereens daarop dat die onderwysdepartement onbekwaam is en deurlopend nalaat om die bevolkingsgroei en -verskuiwings in die land te monitor en skole volgens behoefte te bou.

Sekere provinsies het dubbel soveel leerders as waarvoor die beskikbare skole kapasiteit het, wat dui op die omvang van die probleem. Dit dui egter ook op groeiende spasie vir privaat onderriginstansies.

Talle ouers in Gauteng het byvoorbeeld probleme met die aanlynregistrasie ervaar wat ook daartoe bygedra het dat baie leerders nie by skole kon registreer nie. Leerders wat nog nie in skole geplaas is nie sal tot ’n maand moet wag om terugvoer van die departement te kry of hulle moontlik iewers ’n plek in ’n skool gaan kry.

Die Departement van Basiese Onderwys speel politieke speletjies met skole se taalbeleide, name en embleme wat verander moet word en groot koste-implikasies inhou, terwyl daar ’n meer dringende nood aan nog skole is – veral skole wat vir leerders onderrig in hul moedertaal kan gee.

AfriForum is ook bekommerd dat die situasie uitgebuit gaan word en druk op Afrikaanse enkelmediumskole geplaas gaan word om meertalige onderrig aan te bied. AfriForum het reeds klagtes van Afrikaanse skole ontvang wat onder hierdie druk verkeer en is bereid om skole met raad in dié verband by te staan.

Exit mobile version