Hou aan met goeie diens

Jacques van Helderkruin skryf:

Ek en my vrou woon in ‘n deeltitelkompleks in Helderkruin en het twee hondjies gehad.

Jessie, ‘n Scottish terrier en Jax, ‘n Yorkie-kruising is Sondag 25 September ongeveer 10.30pm wreedaardig vergiftig. Jessie het by die West Rand Emergency Vet Clinic na vyf ure se lyding gesterf, en Jax was vyf dae lank in Horison Park Dierekliniek.

Ons het wel ‘n saak by die Roodepoort Polisiestasie geopen. Daar is ‘n sterk vermoede dat iemand in die kompleks hulle probeer vergiftig het.

My eintlike storie is om vir Dr Dion en sy personeel ongelooflik dankie te sê vir die uitstekende, professionele diens wat aan Jax en ons gegee is. Ons het Jax minstens twee keer per dag besoek en die ontvangsdames was altyd vriendelik en het baie meegevoel getoon, asof Jax hulle eie is.

By tye het dit gelyk of Jax dit nie gaan maak nie. Maar almal het saam gebid en Jax is weer terug by ons. Dr Dion het my selfs Dinsdag 22nm gesms met nuus oor Jax se vordering. Dis werklik ‘n wonderwerk dat Jax die aanval oorleef het, en ons is dankbaar vir die uitstekende diens van dr Dion en sy span.

Dis raar om sulke goeie diens te kry, en veral deur ongelooflik vriendelike mense! Hou aan daarmee!

Exit mobile version