BlogsEntertainmentLifestyleOpinion

Kritiek Aster — Penarie in Potchefstroom

Lekker, maar gevaarlik ook.

Olivetti 45 — Potchefstroom is nie vir die nugter, nuuskierige newbie aan Afrikaanse kuiersessies en Dans Bar nie. Dit het hierdie astertjie mooi besef toe ek onlangs ‘n naweek van artikelskryf ontvlug het en ‘n draai gemaak het by my eerstejaar-nefie daar in Noordwes.

Na ‘n jaar-en-‘n-bietjie van tik-tik-tik aan gemeenskapsnuus, rubrieke en harde punch-in-the-gut artikels vir julle almal het ek uitgesien na dié wegbreek. In Johannesburg kan ons nogal ‘n tot van dit-of-dat wegslaan as ons sou wou maar dit kos ‘n plaas se prys en jy ry to-hell-and-gone om daar te kom, en dan doen ons boonop alles in Ingels. In ‘n japtrap is die trippie gereël; ja, jy kan sommer my roommate se kamer oorneem, sy’s in elk geval nooit hier nie. Jy kan sommer die locals, die studente wat op pad terug is soontoe, uitken aan hoe hulle in hul fênsie karre die groot trokke teen ‘n helse spoed verbyvat. Ja-nee, ek’s naby aan Potchefstroom.

Daar gekom is ons sommer chop-chop uitgepak en reg vir wat okal kom. Raait. Ek’s lus om te kuier, maar na ons die derde plek instap dié Donderdagaand, natuurlik Burhbins soos studente dit noem, en teen 2.30vm nog nie klaar is nie beséf ek – ek is nou oud. Ek vra gaap-gaap om huis toe te gaan en nefie glimlag net. Vrydagaand maak ons weer so en ek kan nie die lomerigheid ontvlug nie; neef laai my later by sy plekkie af en gaan kuier verder. Ons het die aand deur gesokkie-sokkie, al het ek twee linkervoete en geen aptyt vir bokkie rokkie-lirieke nie. Geen drankie kos meer as R15 nie, tensy jy twee koop vir R30 – en almal is dórs.

Als is goedkoop, maar die studente tel hul sente en staar my aan as ek so ‘n luxury ete van R30 by die Voorhuis koop. Ons kuier Saterdagaand saam met een van die HK’s op ‘n plot net buite Potch en besluit teen middernag ons maak ‘n draai by Mistieks. Speel lekker pool toe ‘n girl my neef bel; sy’s in ‘n penarie. Sy en haar vriendin is die enigstes tussen ‘n klomp dronk jonges by ‘n private kuier, sal hy hulle kan help?

Ek gee haastig my karsleutels vir hom en sê hy moet spark. Dan, soos ek as 22-jarige meisie alleen daar in Mistieks staan, besef ek nog iets: ek is dalk ‘n grootmens oor ek ‘n werk het en vroeg moeg raak, en ek glo ek’s verantwoordelik, maar niks keer dat ek in ‘n soortgelyke penarie beland as ek saans uit is nie. Die meisies is veilig tuis en neef sê dit is ‘n gereelde gebeurtenis hier, hy budget half sy petrol daarvoor.

Gulp. Die Sondag terwyl al die kuierplekke toe is vertel hy my rustig wat al gebeur het in sy paar maandjies op Potch. Maandagmiddag stuur ek ‘n skietgebed op vir die girls en manne van Potch terwyl ek uitry. Ek wens meer studente wil nugter besluite neem alvorens hulle in nog ‘n penarie in Potchefstroom beland.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button