Kritiek Aster — Gelukkie met ‘n begrafnis

Alles omtrent Suid-Afrika was opwindend vir die nuwe niggie.

Olivetti 45 ‘S true. Jy kan geluk vind by of na ‘n begrafnis. Ek moes onlangs van ‘n relative afskeid neem in Northcliff, en almal was maar tranerig en nostalgies. Drukkies is uitgedeel tussen familielede wat mekaar nog nie sedert die vorige begrafnis gesien het nie.

Of dit nou sin maak of nie (en vir my doen dit, want my gesin is nogal family-oriented) ek het voor die begrafnis gedagdroom oor wie sou opdaag en wie nie. My een kleinniggie, met wie ek na die vorige begrafnis gebond het, kon dit nie maak nie want sy’t musiekeksamens in Grahamstown. Ag wat, troos ek myself. Haar vervreemde sussie (jy weet, die een wat ek nog nooit ontmoet het nie want sy bly in die UK) mag dalk net opdaag, en sy beloof ten minste om ‘n interessante sighting te wees.

Ek laat dit als sleg klink, apologies – ek weet nie hoe om te sê dat die dag regtig heartfelt en intens en tog bevredigend was nie. Ek voel dat ek ‘n week vantevore met die relative se afsterwe afskeid geneem het en my fokus was nou op die familie wat ek nooit sien nie, vir wie my gesin sou onthaal na afloop van die fênsie koek-en-tee by die begrafnis. Hoewel ek die afgelope paar maande baie tyd saam met die oorledene deurgebring het (wel, meer as ooit) was dié se kant van die familie nog nooit ‘n groot feature in ons lewens nie.

Uit ‘n blink kar klim die nuwe niggie toe – Euro Chic met haar jassie, boots, tights en kantrok. Sy smile vir ons almal en haar oë is vraagtekens elke keer as ons ‘n nuwe naam uitspoeg oor sy sukkel om soort by soort te laat pas. Haar Afrikaans is heavy gebroke. Sy haak by my in en sê, “Ek gaan maar by jou stick, jy moet maar almal show vir my”.

Dis nou maar wors – die koek-en-tee en die bymekaarkoms by ons huis na die tyd was een solid gesprek met hierdie bright nig wat prokureur speel in Londen. Sy soek die volgende challenge, en alles omtrent Suid-Afrika is vir haar opwindend. Sy klou aan elke detail van home vas asof sy nie jogaklasse en sushi daar oorkant mis nie. Dit is vir my wonderlik, en my oë sprankel steeds met nuwe belangstelling in my land.

Exit mobile version