EntertainmentLettersLifestyleOpinion

Kritiek Aster — Kassie

Sterlopers, 'n nuwe reeks op die kassie, maak seker dat Astertjie tyd saam met kleinsus deurbring.

Olivetti 45 — Afrikaanse films is aan’t verbeter, vertel elke kredietwaardige nuusmedium. Dit lyk vir my of die Afrikaanse aanbiedinge op die kassie ook al hoe beter raak, en ek praat nou nie juis van Buitelanders of wat ook al nie. Nee, maats, hier gesels ons oor die nuutste kontemporêre reeks Sterlopers.

In die algemeen kyk Astertjie maar selde televisie. Ek maak nie soos sommiges wat ek ken ‘n kombersgrot om my en bewe met my koppie koffie voor die kassie op koue oggende om voor werk na die nuus te kyk nie. Ek kyk nie laataand TV nie want dan is daar slegs realiteitsreekse op (en ons álbei weet dat dit vêr van die realiteit af). Om op Sondaemiddae TV te kyk, in my geval, is soos om jou tande skerp te maak – dit is dan wanneer al die week se sepies in spesiale omnibusse uitgesaai word en jy na die lewe van die oninteressante, opgeblaasde Kardashians uur na uur kan staar. Daarby is eight-o’-clock movies nie meer soos ons dit as kinders geken het nie. Dit is either ‘n skop, skiet en slaan ooruitgesaaide moewie of die een wat jy reeds op pirate copy gekyk het of een of ander underwhelming superheldfliek.

Sterlopers, daarteenoor, het my al opgewonde gehad vóór dit begin het. Die advertensie daarvoor het my dadelik ‘n fên gemaak. Nadia Beukes speel die mislike redaktrise van Blink, ‘n poniekoerant/ tydskrif. Ek het sowat vier episodes gesien en wil myself skop dat ek nog nie verder gekyk het nie. Die reeks teiken duidelik die tiener- en/ of jeugmark en handel oor die musiek- en vermaakbedryf in Suid-Afrika – die op-en-af daarvan, die blink en die stink. Brad Jooste (een van die karakters) se momager (ma wat die rol van loopbaanbestuurder met oorgawe vul) gee vir my ure se genot. Daarby is die wyse waarop die produksie die stuur en ontvang van teksboodskappe in die reeks ingewerk het baie nuwerwets en dit vloei asof jyself die boodskappe tik en lees. Die jong joernalissie herinner my nogal aan myself en van die ander interns wat ek al by die kantoor teëgekom het – nuuskierig, vol waardes en idees oor joernalistiek volgens die handboek – net totdat jy besef als wat jy geleer het is anders in die praktyk. Ek het lekker gelag toe Jenna Dunster (wat die rol van joernalis Emma Liebenberg vertolk) by die kantoor na werksure diep in die bottel kyk. Sy’t hallusinasies van Nicholis Louw in al sy glorie gehad want sy drink nou nie juis nie – my grootste nagmerrie!

Daarby bied Sterlopers my die geleentheid om met kleinsus voor die kassie te bond terwyl ons lag oor die oppervlakkigheid van die industrie.

Dinsdae-aande na werk en die pad huis toe gryp ek haar en ons sit vasgenael voor die kassie. Definitief die kyk werd, dink ek.

Related Articles

Back to top button