LettersOpinion

Swak diens by die DBV

'n Omgekrapte inwoner vertel van die dienslewering by die DBV in Roodepoort/ Maraisburg.

P Cloete (epos)

Dit is met uiterse frustrasie dat ek hierdie skrywe rig. Op Saterdag 11 Januarie het ons die DBV Roodepoort geskakel, waar ‘n antwoordmasjien ons meegedeel het dat die hospitaal op ‘n Saterdag van 8vm tot 1nm oop is.

My klein hondjie was siek en ek en my dogter het daarheen gejaag en verkeersreëls verontagsaam, sodat ons voor eenuur daar kon wees. Ons het teen 12.30nm arriveer. ‘n Paar mense was voor ons in die wagkamer. Ek het aan die dame aan diens die situasie verduidelik en my naam gegee sodat ons lêer getrek kon word.

Dit is toe dat ek meegedeel is dat hul reeds toe is en my nie kan help nie. Nadat ek haar aandag gevestig het op die ure volgens die antwoordmasjien, het sy verduidelik dat hulle niemand vanaf 12nm help nie oordat hulle om 12nm toemaak en dan eenuur huis toe gaan. In soveel woorde is ek weggewys oordat die personeel eenuur huis toe wil gaan!

Haar houding het my geskok gelaat en ons is toe maar self huis toe. Ek kon sien dat my hondjie in pyn was en het haar rustig gehou en maar gehoop dat dit nie erger raak nie. Laatmiddag het ek noodgedwonge ‘n privaat veearts gespreek en my hondjie reageer goed op die behandeling.

Wat my egter ontstel is die feit dat die DBV altyd “poverty plead” en inwoners om donasies vra. Dit is my gevoel dat die ure wanneer hulle beskikbaar is op alle platforms duidelik gekommunikeer moet word en dat hulle daarvolgens moet werk. Sommige mense, blyk dit, is net daar omdat hulle betaal word. Ek was ‘n getroue DBV-ondersteuner wat ook al ‘n hond by hulle aangeneem het. Ek het hul blikkies in supermarkte ondersteun en al hondekos geskenk. Ek voel dat dit nou die laaste strooi was en dat skenkings, wat my familie aanbetref, nou staak. Ek sal eerder ander instansies ondersteun wat dit nodig het en waardeer.

Aan die dame wat haar prioriteite in die wagkamer duidelik gemaak het – ek hoop jy het jou Saterdagmiddag terdeë geniet!

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button