Die goeie ou dae van Tie Wie

Jong, dit was 'hi-tech' toe jy frekwensies kon instel vir die oorspronklike taal van 'n program.

Terwyl ek onlangs met familie aan tafel sit, begin ons praat oor die goeie ou dae van televisie en hoe dinge verander het.

Ek onthou nog duidelik die gevoel toe ek vir die eerste keer TV kyk. Dit was soos ‘n wonderwerk. Ek het meteens besef dat lewe nooit weer dieselfde sal wees nie!

Laat middag kon jy niemand in die straat sien nie, want almal kyk Wielie Walie, met aanbieders Magda van Biljon en Gert van Tonder. Alhoewel daar baie karakters was, onhou ek meestal vir Sarel Seemonster en Karel Kraai. Natuurlik was die hoofkarakter Bennie Boekwurm, want hy was hooggeleerd en baie wys.

Die jongspan het ook skielik in aktuele sake belanggestel, en aandagtig geluister na Haas Das se Nuuskas, met Riaan Cruywagen. Sy perfekte uitspraak, het hy ons almal ‘n ding of twee van Afrikaans geleer.

My gunsteling program was Kraaines. Nie net vir die stories of die liedjies nie, maar vir Carike Keuzenkamp. Sy was die mooiste vrou in die hele wêreld. As ek haar nou moet ontmoet, is my huwelik sekerlik in die moeilikheid!

Wie kan waag van Al Debbo vergeet. Die kleinse handgebaar of gesigsuitdrukking het jou laat lag. Ek onthou ‘n rolprent van hom waar hy vir ‘n oudisie gaan. Hy begin sing “Janewarie, Febewarie, March…”, toe val die reggiseur hom in die rede en vra, “is dit al wat jy ken”?

“Nee” sê hy kalm, “ek ken die res van die maande ook”.

Later was baie Amerikaanse programme vertaal na óf Afrikaans óf een van die ander offisiële tale. Spiderman was Raboebie en The Six Million Dollar Man was Die Man van Staal. Ek woder nogal hoe dit sou wees om vandag se programme te vertaal. Ek dink byvoorbeeld aan The Bold and The Beautiful. Die Forresters sal natuurlik die Wouters wees, met hul oudste seun Ridge, as Krans Wouter, en sy jonger broer Thorn, ‘n onromantiese Doring Wouter. Brooke bly natuurlik Broek!

Tegnologie het natuurlik later verbeter met die fantastiese instelling van simulcast. Jy kon op jou radio ‘n frekwensie instel wat die oorspronklike taal uitsaai, indien jy nie na die vertaalde program wil luister nie. Jong, dit was “Hi-Tech”.

Aanvanklik was daar ook nie die heeldag televisie nie. Laat namiddag het die TV begin en op ‘n bepaalde tyd in die aand het die uitsaai gestop. Dan het die landsvlag op die televisieskerm verskyn en ‘n instrumentele weergawe van Die Stem is gespeel. Daarna moet jy soet gaan slaap, want more is nog ‘n dag.

Deesdae slaap TV nie. Ons luister met 7.1 prologic digital surround sound, en kyk na ‘n enorme LED, HD, 3D, TV met Bennie Boekwurm brilletjies.

Ja nee, dinge het verander, maar dis al die ou kunstenaars, ook baie wat nie hier genoem is nie, wat die grondslag gelê het vir die kwaliteit van televisie wat ons deesdae het.

Ek wil iets sê, en ek gaan dit sê — Suid-Afrika het talent!

Exit mobile version