Schools

Kruiners kry nuwe wiele

Laerskool Helderkruin spog met splinternuwe wiele in die vorm van 'n bussie geborg deur Hyundai Roodepoort.

Laerskool Helderkruin spog met splinternuwe wiele net in tyd vir die aanvang van die 2024 wintersportkalender.

Volgens skoolhoof Peet Badenhorst het die skool reeds ‘n langstaande verhouding met Hyundai Roodepoort, en toe dit duidelik word dat die skool se vorige bussie sy ouderdom begin wys, het die span by Hyundai nie geskroom om betrokke te raak nie.

“Die Hyundai-span het met ‘n splinternuwe bussie vorendag gekom, kompleet uitgevat met ons skoolwapen.

“Hyundai het dit terselfdertyd goedgedink om ons rugby en netbal eerste spanne by te staan met ‘n baie stewige kontantskenking. Hulle het ook ons eerste spanne se uitrustings, sowel as ‘n klomp toerusting geborg.”

Voorsitter van die Kruiners beheerliggaam, Cornelius Oosthuizen het sy dank uitgespreek teenoor Hyundai Roodepoort.

“Ons is so dankbaar vir wat hierdie plaaslike maatskappy vir ons skool doen. Hulle diens is uitsonderlik en hulle skroom nooit om te help waar hulle kan nie,” sê hy.

Hyundai Roodepoort se handelaarshoof, Anton Burger het persoonlik die bussie en ander skenkings by die skool kom afgee.

“Die Kruiners lê ons baie naby aan die hart,” sê hy. “Ons hoop dat hierdie nuwe bussie vir hulle nog baie suksevolle myle sal besorg.”

Ter viering van die voortgesette ondersteuning wat die Kruiners van Hyundai Roodepoort geniet, is daar ook besluit om die skool se splinternuwe multi-sport turfbane na die maatskappy te vernoem.

Die turfbane sal in die toekoms Hyundai Park heet.

Related Articles

Back to top button