Roodepoort-egpaar vier groot huweliksmylpaal

Jan en Cathy van Niekerk vier hierdie jaar 'n mylpaal huweliksherdenking.

Daar is ‘n gesegde wat sê, ‘liefde is die een ding waarvan jy nooit te veel kan gee en nooit te veel van kan ontvang nie’.

Jan en Cathy van Niekerk is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Hulle het op Dinsdag, 3 September hul 69ste huweliksherdenking gevier. Hulle is steeds so lief vir mekaar soos daardie dag in 1955 toe hulle in Monument NG Gemeente Bloemfontein getrou het. Hulle hele lewe spreek van liefde vir mekaar, vir hul kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, familie, vriende en geliefdes.

Volgens hul seun Anthon, het Jan (90) en Cathy (87) ‘n jaar gelede na Roodepoort verhuis nadat hulle die laaste 31 jaar in Bethlehem gewoon het.

“Die aanpassing van die Vrystaatse platteland na Gauteng het redelik goed gegaan en hulle kan nou getuig hulle is baie gelukkig in Gauteng,” sê Anthon.

Jan geniet woordsoekspeletjies in tydskrifte en koerante, werk met sy hande en braai elke naweek ‘n vleisie. Cathy is lief vir lees, naaldwerk, kook en bak.

Die egpaar het vyf kinders en twee skoondogters en een skoonseun. Hulle het agt kleinkinders, van wie ses getroud is, dus altesaam 14 kleinkinders en nege agterkleinkinders.

“Ons as gesin wil graag ons ouers gelukwens met hierdie wonderlike mylpaal. Ons beskou hulle as ‘n uitstekende voorbeeld vir elkeen van ons se lewens.”

Exit mobile version