25 swembaddens vir 25ste Lentedag-swem

Discovery-inwoner Alli Heyns bereik vanjaar 'n mylpaal met sy prettige Lentedag-tradisie.

Discovery-inwoner Alli Heyns sal op 1 September ’n groot persoonlike mylpaal bereik.

Vir die afgelope 24 jaar, kom reën, koue of hael, maak Alli ‘n punt daarvan om op Lentedag te swem, ongeag waar hy hom bevind.

Dié jaarlikse dip het in die verlede in swembaddens, die see en in damme oor die land heen plaasgevind.

Oudergewoonte stuur Alli al weke lank kriptiese en amusante video’s aan vriende regoor die wêreld in aanloop tot sy jaarlikse swemsessie, wat met groot afwagting die oomblik elke jaar digitaal saam met hom ervaar.

Vir sy 25ste jaar van lentedag swem, beoog Alli om op een dag in 25 swembaddens te spring. Hy is hard besig om te beplan om geskikte swembaddens te identifiseer en ‘n werkbare roete vir die dag uit te werk.

Dit het alles begin toe Alli, ‘n bekende plaaslike klankingenieur, in Augustus 2000 in ‘n huis met ‘n swembad in Florida Park ingetrek het.

“Die swembad was reg buite my ateljeedeur. Ons was besig om ‘n album op te neem en een van die musikante het op die ingewing van die oomblik besluit om in die swembad te spring, klere en al. Ek kon nie net kyk nie, en besluit toe om ook in te spring.”

Alli het weer op 1 September in 2001 en 2002 geswem, net vir die pret.

“Ek het in 2003 tydens ’n opnamesessie met die NG Wilgespruit se Praise & Worship-groep, het ek aan die kitaarspeler Jo Enslin genoem dat daar elke jaar op 1 September geswem word. Hy merk toe droogweg op dat hy dit al vir 44 agtereenvolgende jare doen. Dit het daar en dan ‘n instelling geword.”

Alli stuur een afwagtingsvideo per week uit in die weke voor die groot dag, en een elke dag gedurende die laaste week. Hy stuur ook elke jaar ’n video van sy swemsessie op sosiale media en aan vriende uit.

In 2021 tydens Covid is Alli en ‘n TV-span in isolasie in ‘n hotel in Muldersdrift gehou en hy het besluit om homself op kamera te ondervra oor sy swemritueel.

“Ek het my kamera op ‘n tuinstoel langs die swembad opgestel en ‘n selfie-video geneem van hoe ek in die swembad duik. Die video was ‘n redelik ru affêre, maar met die beskikbare sagteware op my selfoon het ek die onderhoud gesit en swem. saam en uitgestuur.

“In 2022 was ons in die Suid-Kaap besig om die laaste deel van die reeks, My Kitchen Rules, te verfilm, en omdat ons tyd baie beperk was, het ek 06:00 bo-op die berg by Cloud 9 in Sedgefield ’n yskoue swem laat doen.”

Later dieselfde dag het hy ook in Wildernis, en by die Wildernis-swembad in die see geswem en ‘n video van die drie opnames saamgestel.

In 2023 het Alli by sy huis in Discovery geswem en weer ‘n amusante video saamgestel.

“Dit gaan nou net soveel oor die jaarlikse video as oor die swemsessie,” sê hy.

“Hierdie jaar het ek ‘n professionele kameraman-vriend ingespan om op die dag saam te kom en alles te verfilm. Daarna sal ons dit in ‘n video in verwerk wat hopelik dieselfde dag nog aanlyn geplaas gaan word.”

Het jy of jou gesin ‘n interessante Lentedag-tradisie? Deel dit gerus met ons deur ‘n epos na roodepoortrecord@caxton.co.za te stuur.

Exit mobile version