AfriForum streef na die opheffing van gemeenskappe

AfriForum Roodepoort werk hard vir die opheffing en beveiliging van verskeie gemeenskappe.

AfriForum Roodepoort poog om goed te doen in die gemeenskappe wat hulle dien.

Dit volgens AfriForum Roodepoort se voorsitter Werner Brits, wat bysê dat ten spyte van wat baie mense mag glo, dié organisasie beywer hom vir die beskerming en opheffing van alle gemeenskappe, ongeag die samestelling.

“Dit gaan vir ons daaroor om ‘n verskil te kan maak,” sê Brits, ‘n voormalige buurtwagleier wat ongeveer ‘n jaar gelede tot voorsitter verkies is.

Onder Brits se leiding het AfriForum Roodepoort oor die afgelope jaar hul betrokkenheid by gemeenskapsprojekte heelwat verbreed, met verskeie nuwe projekte wat reeds aan die gang is, of wat eersdaags die lig sien.

“Ek het as ‘n patrolleerder by my plaaslike gemeenskapspolisiëringforum begin waar ek ‘n paar AfriForum-lede ontmoet het,” sê Brits, wat byvoeg dat hy van die staanspoor af beïndruk was met die organisasie se ywer om ‘n positiewe bydrae in die samelewing te lewer.

“Ons verskaf hulp waarookal ons kan, of dit in areas is wat onder misdaad gebuk gaan, of waar daar ‘n behoefte is aan voedsel, of as ondersteuning by ongelukstonele, en vele meer.

“Ons is nie die tipe mense wat kan terugsit en kyk hoe ons bure en mede-inwoners worstel nie. Ons spring in en help waar ons kan.

“Om ‘n positiewe bydrae te lewer is vir my die mees doeltreffende en betekenisvolle manier om my geloof en kultuur uit te lewe en te bevorder.”

AfriForum-lede is oraloor betrokke by gemeenskapsprojekte, van skoonmaak en ontbossing van veldjies en parke, tot teenmisdaadpatrollies onder andere.

“Ons probeer om noue bande met plaaslike organisasies soos inwonersverenigings, buurtwagpatrolleerders, die polisie en ander wetstoepassingsagenstskappe, sowel as plaaslike regering, op te bou en te behou,” sê Brits.

“Ons werk almal immers om dieselfde doele te behaal, naamlik die beveiliging en verbetering van ons buurte en ons mense.”

Die organisasie open eersdaags hul splinternuwe kantore in Roodepoort vanwaar hulle hoop om hul aktiwiteite voort te sit en selfs verder uit te brei.

“Ons is baie opgewonde oor hierdie mylpaal. Dit het harde werk geverg om dit te behaal, en ons het groot planne vorentoe.”

Exit mobile version