Local news

Noue ontkoming vir Hories se o13s

Laerskool Horison is baie verlig nadat hul o13-netbalspan ongedeerd van 'n ongeluk afgekom het.

Laerskool Horison se o13-netbalspan het Dinsdagmiddag, 28 Mei, ‘n noue ontkoming gehad toe die bussie waarin hulle gereis het, in ‘n ongeluk betrokke was.

Die span van vier, vergesel deur twee onderwysers en twee familielede van een van die spelers, was op pad terug vanaf ‘n vriendskaplike oefenwedstryd teen Laerskool Vastrap in Rustenburg toe die ongeluk gebeur het.

Volgens die skool se beheerliggaamvoorsitter, Louis Fourie, moes die bestuurder ‘n alternatiewe roete gebruik aangesien daar vroeër die middag ‘n botsing tussen ‘n vragmotor en ‘n trein in die hoofstraat van Magaliesburg plaasgevind het, en die pad vir verkeer gesluit is.

“Die bussie was op die R563, oftewel die Broederstroompad, op pad terug toe ‘n tenkwa in die aankomende verkeer reg voor die skoolbussie ingeswaai het om ‘n trok verby te steek,” het Fourie gesê.

“Die bestuurder moes binne ‘n oomblik reageer en het van die teerpad afgeswaai om ‘n kop-aan-kop botsing te vermy. Ongelukkig is die skouer van die pad op hierdie punt baie laer as die teerpad en dit het veroorsaak dat die bussie omslaan.”

Fourie sê bystanders het onmiddellik ingespring en die bussie se nooduitgangsvenster gebreek om die insittendes uit die bussie te bevry.

“Een van die spelers se ma’s, ‘n mediese dokter, wat die wedstryd gaan kyk het en agter die bussie aangery het, het op die toneel mediese bystand gelewer totdat ambulanse opgedaag het.

“Een van die spelers en twee ander insittendes is per ambulans na ‘n hospitaal geneem, maar is later dieselfde aand ontslaan. Gelukkig was daar geen ernstige beserings nie.”

Volgens Fourie was die skoolhoof en adjunkhoof dié betrokke dag by ‘n rugby ligawedstryd en het hulle onmiddellik na die toneel van die ongeluk gejaag om die spelers en onderwysers by te staan.

“Die tenkwa [wat amper die kop-aan-kop botsing veroorsaak het] het eenvoudig aanhou ry,” sê Fourie. “Omstanders het die trok agterna gesit en probeer om dit tot stillstand te dwing maar was onsuksevol.”

Die skool het op 29 Mei ‘n beradingsessie vir die insittendes gereël.

“Ons is baie dankbaar vir al die ondersteuning, oproepe, en boodskappe wat ons in die naloop van die insident ontvang het.”

Related Articles

Back to top button