Witpoortjie Retirement Village het ‘n gesondheidsbewusmakingsdag vir hulle inwoners, asook enige persone in die gemeenskap, op 15 November gehou.
Dawie Lee, bestuurder by die aftreeoord, het verduidelik die idee vir die dag het van Matrone Anna Khunwani gekom en saam het hulle die gesondheidsgemeenskap betrek.
“Die inwoners en personeel het dit baie geniet en vir baie van ons was dit ‘n openbaring oor ons leefstyl en ongesonde gewoontes wat ons met die tyd aangekweek het,” het Dawie verduidelik.
ER 24, asook Local Choice Pharmacy, het mense se suiker en bloeddruk getoets, terwyl Unique Health en LV Nutritional Products mense raad gegee het oor hulle algemene gesondheid.
Hy het genoem dat hulle voor Covid-19 soortgelyke dae gehou het, maar dit was nie so suksesvol soos hierdie jaar s’n nie, en het bygevoeg dat hy glo dit is omdat mense nou meer gesondheidsbewus is na die pandemie.
Hy het afgesluit deur te sê dat hulle beoog om minstens twee keer ‘n jaar soortgelyke dae te hou om hulle inwoners die geleentheid te gee om geassesseer te word.