Local news

Roodepoort paartjie vier 60 jaar van geluk en liefde saam

Na 60 jaar van saamwees het die egpaar al baie sakke sout saam opgeëet en is steeds aan mekaar toegewyd.

Op 9 November het Chris en Nellie Kotze die voorreg gehad om hulle 60ste huweliksherdenking te vier.

“Ons doen alles saam, as ons verf, verf ons saam, as ons tuinwerk doen of meubels restoureer, doen ons dit saam.

Dit maak nie saak wat ons doen nie, ons doen dit saam,” het Nellie vertel van hulle geheim vir so ‘n lang huwelik.

“Ons het vir die regte redes getrou,” het Chris ook bygevoeg.

Hulle het verduidelik hulle het in Johannesburg saam gewerk by die poskantoor, waar hulle liefde begin blom het.

Hulle het ook saam die Pos en Telegraaf Opleidings Kollege bygewoon.

Chris verduidelik hulle het mekaar eers goed leer ken, waarna hulle na ‘n jaar lange verlowing getroud is. Tesame het hulle twee seuns gehad.

Hulle advies aan getroude paartjies is om dinge uit te praat en nooit kwaad te gaan slaap nie.

Waarop hulle in hulle eie huwelik die trotste is, is die feit dat hulle op hulle eie gekom het waar hulle is.

“Ons was nie ryk nie, maar ons het genoeg gehad en ons het dit self gedoen,” het Nellie verduidelik.

Nellie verduidelik wat sy ook baie geniet het was hoe hulle saam op vakansie gegaan het, veral met ‘n karavaan, ongelukkig het sy, nie te lank terug nie, ‘n groot operasie gehad, so om saam op vakansie te gaan is nou bietjie moeilik.

Vir die spesiale dag het die paar gaan uiteet en natuurlik tonne gelukwensings en kaartjies van hulle bure by Summit Village ontvang.

“Dit voel nie soos 60 jaar nie, dit het te vinnig verby gegaan,” het Nellie gesê. “Ons vat elke dag maar soos wat dit kom,” het Chris afgesluit.

Related Articles

 
Back to top button