Local news

Tannie Girlie vier haar 100ste lewensjaar

Plaaslike inwoner vier groot mylpaal verjaardag.

Daar is ‘n bekende gesegde wat sê, “Oudword is nie vir sissies nie,” maar wanneer jy met van die ouer garde gesels, sal hulle vir jou sê dat jy moet dankie sê vir oudword, want dit is ‘n voorreg wat nie vir almal beskore is nie.

Hester Viljoen, ook beter bekend as Tannie Girlie, kan beslis hiervan getuig aangesien sy haar 100ste verjaardag op 12 November vier.

Tannie Girlie woon al vir die afgelop 80 jaar in Roodepoort en het nog tot onlangs op haar eie in die Wilropark Aftree-oord gewoon. Dit het verander toe sy gedurende die Covid-19 pandemie geval het, en noodgedwonge op 98-jarige ouderdom na die Ons Huis Aftree-oord se versorgingseenheid moes skuif.

Tannie Girlie is gesond en het ‘n groot liefde vir tuinmaak en blommerangskikking, en is ‘n omgeemens wat vir elkeen wat haar pad kruis ‘n voorbeeld en inspirasie is. Sy was vir jare ‘n aktiewe lidmaat van die Hervormde Kerk en het tot onlangs toe nog aktief aan kerk aktiwiteite deelgeneem. Haar hele lewe is gekenmerk deur sterk Christelike waardes en normes, en dit is beslis een van die redes wat almal glo dat Tannie Girlie die voorreg kan hê om hierdie groot mylpaal in haar lewe te vier.

Elkeen by die versorgingseenheid waar Tannie Girlie woonagtig is, is baie lief vir haar en sy word beskryf as iemand met ‘n innemende geaardheid wat maklik die dinge wat sy nie kan verander nie, aanvaar.

Gewoonlik gaan hierdie hoë ouderdom gepaard met baie ander skete en pyne, maar die personeel by die aftree-oord weet dat Tannie Girlie se gesondheid nog goed is en dat sy beslis nog nie haar goeie smaak verloor het nie, veral as dit by haar voorkoms kom nie.

Related Articles

Back to top button