Wes-Randse paramedikus (31) word vereer

Plaaslike paramedikus ontvang waarderings sertifikaat vir haar passie om mense te help.

Hanri van Niekerk (31) het September se sertifikaat van waardering, wat deur die Wes-Randse Burgerlike Misdaadintervensienetwerk (CCIN) se operasionele beheersentrum toegeken word, ontvang.

Hanri het al vroeg in haar lewe agtergekom waar haar passies lê.

“Vir solank as wat ek kan onthou het ek ‘n diep en innerlike behoefte om mense in nood te help. Ek het nie veel geweet van nooddienste nie, maar het perongeluk op ‘n kursus af gekom toe ek ondersoek doen vir ‘n graad 11 lewensoriëntering taak – so mens kan seker maar sê die beroep het my gekies en ek het nog nooit terug gekyk nie,” vertel sy.

Sy het ‘n graad in mediese noodsorg en werk al vyf jaar by Netcare911 se Pinehaven tak.

Hanri het vroeër die jaar ‘n bevordering aanvaar as operasionele bestuurder assistent vir die Roodepoort/ Pinehaven tak.

Alhoewel sy aan beide kante van die Pinehaven interseksie werk, is Hanri trots om te sê sy is in Krugersdorp gebore.

“Om ‘n paramedikus te wees beteken soveel meer vir my as om net ‘n lewe te red,” verduidelik sy, “ek word daagliks die geleentheid gegun om ‘n verskil te maak vir iemand op moontlik die slegste dag van hulle lewe. Ek het ‘n ware liefde vir my werk en ek hoop dat my pasiënte en hul familie ‘n druppel daarvan sal ervaar.”

Sy vertel verder dat die toekenning ‘n ongelooflike verrassing was, want baie van die werk wat sy doen vind after die skerms plaas.

“Die feit dat dit raak gesien word het my sonder woorde en baie emosioneel gelaat. Ek kan nie meer dankbaar wees vir BCI en CCIN vir die erkenning nie,” sluit sy af.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version