Local news

Ons Plek se nuwe vlag wapper trots

Om hul kleuterskole en naskoolsentrums se waardes uit te beeld het Solidariteit Helpende Hand hulle nuwe vlag onthul.

Solidariteit Helpende Hand spog met ‘n nuwe vlag vir hulle kleuterskole en naskoolsentrums wat bekend staan as Ons Plek.

Op 3 Oktober is die vlag, in die vorm van ‘n vlieër, onthul by die voet van die Voortrekker Monument tydens ‘n geskiedkundige vlagseremonie.

Phillip Bruwer, mediaskakelbeampte vir Helpende Hand, het verduidelik dat talle kinders van die Ons Plek skole van regoor Gauteng, asook personeel van Helpende Hand en die Solidariteit beweging, die seremonie bygewoon het en hulle het ook die skoollied, ‘Ons behoort’, wat deur die sanger en liedjieskrywer Arnold de Wet geskryf is, gesing.

“Die liefde vir Afrikaans, kultuur, ons erfenis en geskiedenis begin by ons kleuters en skoliere. Dit is ‘n geweldige groot voorreg en verantwoordelikheid wat ons opneem om hierdie diens te ontwikkel en verdiep. Ons besef dat simbole soos vlae en liedere die menslike ervaring van identiteit en gemeenskap met emosie verryk. Dit help om die verbondenheid tussen mense te versterk en dra by tot die rykheid van ons kultuur en erfenis,” het Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke, gesê.

Suzette Oosthuizen, hoof van nasionale projekte by Helpende Hand. Foto: Verskaf.

Bruwer het die betekenis van die vlag beskryf as ‘ryk en simbolies’.
“Oranje verteenwoordig vryheid, veiligheid, voorspoed, uithouvermoë, selfvertroue en durf. Blou simboliseer vrede, stabiliteit en die onbegrensde moontlikhede van die lug en oseane. Die bopunt van die vlieër verwys na God. Die onderpunt staan vir familie, vriende, en gemeenskap. Die linkerkant van die vlieër simboliseer omgee en hulp aan ander. Die regterkant verteenwoordig kennis. Die vlieër se stert dui rigting en vryheid aan. Elkeen van die sewe strikke aan die stert verteenwoordig een van die Ons Plekke.

Hy het afgesluit, “Die vlag gee uiting aan die waardes wat die Solidariteit Helpende Hand, Ons Plek nastreef en by ons kinders inskerp: samewerking, leierskap, vaardighede, drome, ‘n toekoms, en ‘n diep verlange om ‘n positiewe bydrae te lewer.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button