Plaaslike paartjie vier besonderse huweliksherdenking

Met genade van Bo hou hierdie paartjie hulle beloftes aan mekaar ten spyte van enige struikelblokke wat hulle mag teekom.

Na 50 jaar saam is Betsie en Philip Coetzer nog net so gelukkig soos die dag wat hulle getroud is.

Op 6 Oktober vier Betsie en Philip hul 50ste huweliksherdenking en Philip het beplan om sy vrou te verras met ‘n vakansie in Mauritius.

Hy vertel hulle het baie sakke sout saam opgeëet en die enigste rede hoekom hulle tot hier gekom het was uit genade van Bo.

Betsie verduidelik hulle het op skool ontmoet en in 1970 saam gematrikuleer. In 1973 is hulle getroud toe sy 20 was en Philip 21. Hulle is geseën met vier kinders, twee seuns en twee dogters en sy vertel hulle doen alles saam.

Twee jaar terug is Betsie met kanker gediagnoseer, wat Philip laat vrees het vir sy vrou se lewe, maar hulle vertel ‘die Here het hulle ongelooflik geseën’. Sy is nou in remissie en hulle sien uit na nog baie jare saam.

Betsie lag, na al hierdie tyd word sy steeds elke oggend bederf met ontbyt in die bed. Hierdie is ‘n besonderse jaar vir Betsie, behalwe vir hulle huweliksherdenking, word sy ook 70 jaar oud.

Die paar is al vir baie jare betrokke in hulle gemeenskap. Betsie het by die poskantoor gewerk voor sy 10 jaar terug afgetree het en Philip is steeds ‘n eiendomsagent – eers in die Witpoortjie area en nou in die Wilropark aftree-oord waar hulle bly.

Betsie verduidelik die geheim tot ‘n gelukkige huwelik is om mekaar te respekteer, te vertrou, om eerlik met mekaar te wees en die belangrikste van als om met mekaar te kommunikeer.

Hulle het afgesluit, “Vyftig jaar gelede het ons ‘n belofte aan mekaar gemaak, wat ons beplan om nog vir baie jare na te kom.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version