Oud brandweerman skryf sy tweede boek om ander insig te gee

Na 33 jaar van brande bestry vertel 'n plaaslike inwoner nou van sy ondervindinge in die hoop mense sal besef wat die werk vereis.

Na 33 jaar in die brandweer het Johannes Viljoen besluit om te skryf oor sy ervaringe.

Die voormalige brandweerman (64) het vertel hy het na skool by die weermag aangesluit, waarna hy by die brandweer aangesluit het.

Hy en sy vrou Sandra is al vir 37 jaar getroud. Hulle het drie dogters, ‘n identiese tweeling waarvan een op 10-jarige ouderdom oorlede is aan kanker en dan nog ‘n jonger dogter.

In 2011 het hy klaargemaak by die brandweer en na ‘n paar mislukte pogings in ander velde, het hy besluit dis tyd om sy ‘eie ding te doen’. Ongelukkig het Covid 19 ook van sy pogings in die wiele gery. Een aand terwyl hy geslaap het, droom hy hy moet ‘n boek skryf, alhoewel hy nie geweet het waaroor nie. Hy voeg by, die Heilige Gees het hom gelei om sy eerste boek te skryf en met tyd het die tweede een ook gevolg.

Hy verduidelik sy eerste boek, Wapenrusting van God, het hy gedurende die pandemie met die virus as inspirasie, geskryf. Hy het gevoel mense is so geneig om óf net te aanvaar wat met hulle gebeur óf die vinger na iemand anders te wys. In stede daarvan om te besef as hulle die wapenrusting van God aangehad het, sou die dinge nie gebeur het nie.

Die tweede boek, Passie en Vuur, het hy verduidelik, kom van die huidige uitdagings wat die brandweer ervaar, onder andere die min brandweerwaens wat beskikbaar is.

“Ek kom uit ‘n era waar jy ‘n brandweerman geword het omdat jy ‘n passie daarvoor het, jy is geroep om dit te wees. As jy natuurlik die passie het moet jy die vuur in jou hart hê om dit te kan doen,” het Viljoen bygevoeg.

Verder het hy gesê Freddie Nest se liedjie Vuur hier binne my het die boek aangevuur, aangesien daardie passie wat eens op ‘n tyd daar was nie noodwendig meer daar is nie. Hy het name en plekke verander, maar die verhaal is van ware gebeure.

Hy hoop wanneer mense die boek lees besef hulle wat brandweerpersoneel daagliks sien en ook die sielkundige uitwerking wat die werk op ‘n persoon het. Hy hoop wanneer mense tot hierdie besef kom sal hulle respek hê daarvoor, ten spyte van die uitdagings wat daar tans is.

Exit mobile version