Bekende skrywer besoek plaaslike skool om kinders te inspireer om te lees

Kinders kry 'n inspirerende praatjie oor lees van skrywer Fanie Viljoen, tesame met die bekendstelling aan sommige van sy ander boeke.

Die bekende skrywer, Fanie Viljoen, het by Laerskool Dr Havinga besoek afgelê om kinders te onderrig oor die belangrikheid van lees.

Cecille van Rooy, een van die onderwysers, het die inspirasie agter die besoek verduidelik, “By die skool is dit vir ons belangrik om ons kinders meer geleenthede te gee om aan lees blootgestel te word. Deur die skrywers van die boeke te leer ken, raak hulle ook opgewonde.”

Sy het bygevoeg met Viljoen se besoek kry hy die kinders baie opgewonde oor sy boeke. Hulle kan nie wag om meer te lees nie en ook ander tipe boeke te lees as waaraan hulle gewoond is. Na die besoek het hulle ook ‘n boek-uitstalling gehad waar die kinders boeke kon koop.

Van Rooy het ook vertel in vandag se samelewing is daar ‘n agterstand in lees, waarop Covid-19 ‘n groot invloed gehad het.

Sy het bygevoeg hoe meer ‘n kind lees, hoe beter doen hulle in al hulle vakke op skool. As hulle beter verstaan wat daar van hulle gevra word, kan hulle dit beter beantwoord.

Behalwe vir Viljoen, het hulle ander skrywers al ook gehad wat met die kinders kom gesels het.

Van Rooy het afgesluit deur te verduidelik hoekom hierdie inisiatief so suksesvol is, “Wanneer die kinders daar uitstap sê hulle altyd ‘ek wil hierdie boek lees’ of ek ‘wil daardie boek koop’.”

Exit mobile version