Local news

Onderwyser met ‘n gawe vir kuns

Plaaslike kunstenaar wil ander 'bemoedig' met haar kuns.

Taryn Brown wil ander inspireer om God beter te leer ken, deur kuns. Van kleins af speel sy al met potlode en verf, maar op hoërskool begin sy haar kuns ernstig opneem nadat sy in graad 10 kuns as een van haar keusevakke gekies het.

“Dit is nou 12 jaar later en ek is nog steeds dankbaar vir die geleenthede wat ek op hoërskool ontvang het. God het ons almal geskape met unieke talente en ek kan nie anders as om my Vader te eer en te verheerlik deur my talent nie. Ek voel nader aan ons Skepper wanneer ek kuns maak, en word meer bewus van hoe afhanklik ek van Hom is, sonder Sy leiding sou ek nie kon skep nie,” het Taryn verduidelik.

• Lees ook: Alfred uses his colour and brush in honour of God

Sy het bygevoeg dat nie al haar kunswerke ‘n spesifieke boodskap het nie, maar sy word deur haar geloof
geïnspireer en so hoop sy om die Woord aan ander oor te dra.

Behalwe vir portrette en stilleweskilderkuns, skets sy ook graag en vertel sy is eintlik meer gemaklik met ‘n potlood as ‘n verfkwas.

“Altwee mediums het sy eie voordele en uitdagings, maar ek geniet die feit dat ek myself op verskillende maniere kan uitdruk,” het Taryn uitgebrei. Sy het ook onlangs begin juwele maak, in besonder handgeverfde oorbelle.

• Lees ook: Winter market day at local nursery

Sy is ook al vir die laaste ses jaar ‘n onderwyser by Legends Academy in Horison en hoop om eendag ‘n kunsskool oop te maak, saam met haar skoonpa, waar sy haar kuns en onderwys, waarvoor sy so lief is, kan kombineer.

“Vir nou maak ek kuns wat my Vader sal verheerlik en geniet die reis waarop ek is,” het sy gesê.

Vir aspirante kunstenaars bied sy twee stukke advies, “Eerstens, moet nie jouself te ernstig opneem nie, jou kuns hoef nie perfek te wees om dit te kan geniet nie. Tweedens, maak kuns waarvan jy hou en wat jou inspireer, moet nie probeer om ander na te maak nie, jy is ‘n unieke wese, geskape met ‘n unieke doel.”

Related Articles

Back to top button