Local news

Witpoortjie groet geliefde geneesheer

Geliefde geneesheer sal onthou word vir sy omgee-hart

Johann Deon Slabbert of Dr Slabbert soos almal hom ken, het op 14 Junie sy 20-maande lange stryd met pankreaskanker verloor. Hy was 69 jaar oud.

Sy peetdogter, Lara Rossouw, beskryf hom as ‘n kind van die Here, ‘n man, ‘n pa, ‘n skoonpa, ‘n oupa, ‘n broer, ‘n swaer, ‘n peetpa, ‘n oom, ‘n neef, ‘n vriend, ‘n kollega en ‘n geneesheer ‘n met passie vir sy loopbaan.

Volgens Lara het hy die meeste van sy lewe in die Florida area deurgebring. Hy het by Laer- en Hoërskool Florida skool bygewoon en in 1981 in Witpoortjie begin werk.

“Hy sal onthou word as ‘n mensemens, ‘n omgee-mens, ‘n nederige en onselfsugtige mens. As iemand wat lief was vir die Here, die natuur, sy familie, vriende, pasiënte, braai, fotografie en die Krugerwildtuin. Mens kan ook nie aan Deon dink sonder om sy humorsin, grappies en lekker lag te onthou nie. As familie het ons dikwels langs sy siekbed gesê dat alles nog okay is, want die humor was nog daar,” verduidelik Lara.

Dr Slabbert laat sy vrou, Erika, sy kinders, Ilde en Rohann en skoondogter, Lieze, asook sy kleinkinders Stanley, Lilea en Beate, asook sy suster Marlé Rossouw agter.

“Ons gaan hom altyd mis en altyd na hom verlang. Hy sal vir ewig in ons harte, gedagtes en herinneringe bly. Ons vind troos in die wete dat hy in die teenwoordigheid van Jesus staan en daar geen meer pyn en lyding is nie. As familie wil ons dankie sê vir elke gebed, elke boodskap, elke oproep, elke besoek, elke inloer. Vir die blomme, geskenke, kaartjies, vir die kos en gebak aflewerings, vir die help rondry, vir die stywe drukkies, bemoedigende woorde en liefde in hierdie moeilike tyd,” het Lara afgesluit.

‘n Gedenkdiens vir dr Slabbert word op 21 Junie om 11:00 by die NG Kerk Roodekrans gehou.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button