Local news

Hoe jy op uitdagings reageer, is wat saak maak

Izelle Warricker deel haar geheime vir veerkragtigheid.

Dat die lewe vol uitdagings is, is gewis. Maar wanneer ‘n mens die vermoë het om te bly vorentoe kyk en op die goeie te fokus, is sukses ‘n uiteinde.

“Elke uitdaging was ‘n les wat ek moes leer om vandag my beste te kan gee en ander te help,” het Izelle tydens ‘n onderhoud met Roodepoort Record vertel.

Izelle het ‘n aantal uitdagings oorkom om te wees waar sy vandag is. Hierdie eienaar van The Tax Shop in Helderkruin vier nie net haar eie besigheid nie, maar ook entrepreneurskap in die algemeen, en is in die proses is om ‘n maandelikse markdag van stapel te stuur.

Also read: Struggling to find work, yet still volunteers

Izelle Warricker. Photo: Supplied.

 

Sy het as kind in Roodepoort grootgeword by haar ma en ouer broer. Haar pa was nie deel van haar lewe nie, maar haar fokus was nie op die leemte nie, maar op vooruitgang. Wat haar hoop gegee het was die vooruitsig van ‘n studiegeleentheid.

Die lewe het egter ander planne gehad. Sy is op 19 getroud en het op 20 haar eerste dogter gehad en ‘n tweede babadogtertjie op 21.

Vasgevang in ‘n ongelukkige huwelik, was dit nie maklik vir haar om enige vooruitsigte vir haar en haar dogters te sien nie. Sy sou vir jare sukkel sonder werk, sonder vervoer en sonder die finansiële ondersteuning wat baie as voorvereistes vir sukses beskou. Maar nie Izelle nie – sy was vasberade om ‘n sukses van haar lewe te maak en só hoop te skep vir haarself en haar dogters.

Also read: Hard work and determination pay off for Helderkruin top achiever

Haar vorige werknemers het haar laat glo dat sy nooit beter sou wees nie, maar gelukkig het sy hulle negatiwiteit nie ter harte geneem nie. Sy het die dapper besluit geneem om ‘n vaste werk te bedank en het by ‘n firma in die rekeningkunde bedryf aansoek gedoen, aangesien hierdie vakgebied nog altyd haar passie was.

Nog ‘n paar werksveranderinge en die uitmergeling van ‘n sloerende egskeiding sou vir haar wag, maar sy het vasberade die een voet voor die ander bly sit en opwaarts gegroei. Sy het mettertyd menigte sertifikate ingepalm en is vandag die trotse eienaar van The Tax Shop.

Haar geloof speel ‘n groot rol in haar lewe en sy prioritiseer dankbaarheid.

“Die Here se guns en genade oor my lewe is en sal altyd te groot wees om te kan beskryf en dit is hoekom ek dink dat engele heeltyd net jubel en juig in die hemel.

“Soms is woorde net nie genoeg nie …” sê sy oor die intense dankbaarheid wat sy ervaar.

Saam met dankbaarheid is ‘n positiewe ingesteldheid en volharding ook onontbeerlik vir sukses.

“Maak nie saak wat met jou gebeur nie, dit maak saak hoe jy reageer,” is haar raad aan ander wat hul omstandighede wil verbeter.

Uithou en aanhou speel ook sleutelrolle.

“Vandag is ek bitter dankbaar dat ek nooit opgegee het nie. Al was ek deur verskriklik baie, weet ek dat jy die krag in jou het om jou lewe te omskep in wat jy wil hê.”

Terwyl ‘n mens jou innerlike krag moet vertrou, weet sy dat uitdagings steeds sal opdaag. Wanneer dit gebeur, onthou Izelle dat elke struikelblok ‘n les inhou. Deur hierdie lesse te leer het sy genoegsaam gegroei om vandag ‘n inspirasie vir ander te wees.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button