Local news

‘Ek soek nie geld nie, net glimlagte’

Theunis huur tans 'n kamer in die dorp en wy homself daaraan toe om 'n glimlag op die gesigte van ander te kan sit.

Plaaslike inwoner, Theunis Bester se vriendelike gesig, breë glimlag en netjiese voorkoms het hom die afgelope ruk die onderwerp van bespreking op verskeie sosiale media plasings gemaak.

Motoriste wat gebruik maak van die kruising by Ontdekkersweg en Corlettlaan het gou opgelet toe ‘n self-aangestelde beampte besluit het om ‘n helpende hand tydens die oggend-spitsverkeer te bied.

Theunis Bester wil die gemeenskap laat glimlag. Foto: Alanicka Lotriet.

Alhoewel dié 68-jarige nog net vir ses maande in Witpoortjie woon, het hy gou ‘n bekende gesig in die gemeenskap geword. Volgens Theunis is hy egter ‘n gebore en getoë Krugersdorper en het aan die Hoërskool Jan de Klerk gematrikuleer.

Naskool het hy sy eerste werk op ‘n myn in die Wes-Rand losgeslaan waarna hy vir ongeveer 20 jaar vir ‘n telekommunikasie maatskappy gewerk het. In daardie tyd is beide sy ouers oorlede en het Theunis net sy suster en stiefsuster oor gehad.

“Ek wou baie graag Kaap toe gaan, en het uiteindelik in 2003 soontoe verhuis. Daar het ek vir ‘n verdere 19 jaar vir die polisie gewerk as hospitaalwag vir kriminele. Ek het steeds gereeld vir my stiefsuster in Gauteng kom kuier. Sy is ongelukkig in 2013 oorlede,” het hy vertel.

“Ek het nou net een suster en sy bly in die Vrystaat. Wanneer ek kan, probeer ek vir haar gaan kuier.”

Theunis Bester wil die gemeenskap laat glimlag. Foto: Alanicka Lotriet.

Al het hy in Mei vanjaar terug Wes-Rand toe verhuis, wil hy graag terug Kaap toe trek. Dié enkellopende inwoner meen hy het nog nooit getrou nie omdat hy steeds opsoek is na die regte vrou en het dus ook geen kinders nie.

Theunis huur tans ‘n kamer in die dorp en wy homself daaraan toe om ‘n glimlag op die gesigte van ander te kan sit.

“My ma het my geleer mens bedel nie. Daarom soek ek nie geld as ek by die verkeerslig staan nie – ek soek glimlagte en dalk ‘n geselsie of twee. Motoriste kan baie onverskillig by die kruising ry en daarom wil ek mense help om veilig te wees,” het hy vertel.

“Wanneer iemand besluit om vir my iets te gee, dan bid ek vir hulle en vra die Here om hulle te seën.”

Volgens Theunis word hy soggens om 03:00 wakker en bid graag vir die land, Eskom, nooddienste en jongmense onder andere, waarna hy begin stap na die kruising. Hy vertel ook dat hy daarvan hou om nuwe mense op die pad te ontmoet en met hulle te gesels.

Theunis Bester wil die gemeenskap laat glimlag. Foto: Alanicka Lotriet.

“Wanneer iemand vra wat ek soek (dalk vir Kersfees of my verjaarsdag) sal ek net sê ‘1 Johannes 4:7-21’. Ek soek net liefde – vir myself, die mense rondom my, die motoriste in spitsverkeer en vir die land. My grootste begeerte is dat al die rasse in ons land sal saamstaan en mekaar liefhê,” het hy ten slotte vertel.

Indien jy daarin belangstel om vir Theunis te help met kos of klere, kan hy gekontak word op 079 568 9851.

Related Articles

Back to top button