Hories wil die wêreld verander

'Dit is maklik om die wêreld ten goede te verander. Wanneer ons saam werk, kan ons 'n baie groot verskil maak.'

Laerskool Horison het besluit om die jaar op ‘n hoë noot af te sluit deur een van hul sewe waardes – omgee – op grootskaal te beoefen.

“Hories gee om en ons streef na harte van omgee en om altyd te help waar ons kan. Daarom het ons gedink; hoe kan ons, as Hories die wêreld verander?” het Litza Roodt van die skoolbeheerliggaam vertel.

Hulle het dus besluit om deel te raak van die ‘ARK’ (Acts of Random Kindess) inisiatief wat daarop gemik is om hoop te versprei deur middel van Ark spaarbussies.

Volgens Litza word dié plastiese oranje spaarbussies deur die liefdadigheidsorganisasie, Change our World for Good (https://changeourworldforgood.co.za/) vervaardig om sodoende hoop aan die wêreld te bring.

Sy vertel verder dat elke Horie so ‘n spaarbussie ontvang het om vol te maak met enige spaargeld wat dalk mag rondlê.

“Dit is maklik om die wêreld ten goede te verander. Wanneer ons saam werk, kan ons ‘n baie groot verskil maak. Sodra die ark vol is, gee die leerders die bussie vir iemand wat hul dink dit nodig het,” het Litza vertel.

“Dis so eenvoudig. Dink net as almal in ons skool ‘n ark sou vul en dit gee aan iemand wat dit meer nodig as hulle het, kan ons werklik begin om ons wêreld ten goede te verander.”

Alhoewel ‘n klein daad van omgee ‘n verskil kan maak, het ‘n daad wat herhaal word die moontlikheid om ‘n lewe en selfs die werêld te verander. Volgens Litza is dit wat Ark anders maak as enige ander vorm van gee.

Die beheerliggaam daag dus elke Horie uit om hul kleingeld in hul Ark bootjie te sit en dit vir ‘n persoon of instansie in nood te skenk.

“Die lewe gaan nie soveel oor wat jy kry as wat dit gaan oor wat jy gee nie. Want om te gee is ‘n daad wat – terwyl ons ander se lewens verbeter – ons in die proses beter mense maak. Gee – groei en lewe met liefde en omgee in jou hart,” het sy ten slotte vertel.

Exit mobile version