Editor's choiceLocal news

‘Hier is ek, my naam is Janu’

Om met Janu te gesels is soos om op 'n wilde tuimeltreintrit te wees; hy kan nie uitgepraat raak oor sy skool, sy juffrou, sy maats en die feit dat hy onlangs begin het om gewigstootoefening by te woon nie.

Daar is amper agt biljoen mense in die wêreld, elkeen met eienskappe wat hom of haar uniek maak, maar partymaal is dit juis hierdie unieke eienskappe wat maak dat jy geklasifiseer word as ‘anders’; ‘n woord wat jou hele lewe kan oorheers.

Dit is die geval vir die negejarige Janu van Heerden, ‘n uitbundige, lewenslustige seun wat lief daarvoor is om skool toe te gaan, saam met sy maats te speel en alreeds besig is om ‘n pizzapartytjie vir sy verjaardag in Mei te beplan.

Janu van Heerden is mal daaroor om saam met sy maats by die skool te wees. Foto: Adéle Bloem.

Janu is met ‘n geboortevlek, wat ‘n port-wine stain genoem word, op sy gesig gebore, en drie uit elke 1 000 babas staan die kans om met so ‘n vlek gebore te word, en dit is iets wat al baie hartseer en seer in nie net sy lewe nie, maar ook dié van sy gesin veroorsaak het. Vroeër hierdie jaar is hy ook met Sturge-Weber sindroom, ‘n neurologiese kondisie, gediagnoseer.

Om met Janu te gesels is soos om op ‘n wilde tuimeltreintrit te wees; hy kan nie uitgepraat raak oor sy skool, sy juffrou, sy maats en die feit dat hy onlangs begin het om gewigstootoefening by te woon nie. Hy is vol grappies en lag graag; ‘n aksie wat sy ogies ondeund laat skitter, veral wanneer hy oor sy liefde vir sy juffrou praat. Hy is mal oor sing, dans en sosiaal wees.

Janu van Heerden is mal daaroor om saam met sy maats by die skool te wees. Foto: Adéle Bloem.

Alhoewel Janu dit vreeslik geniet om skool toe te gaan, het hy erken dat dit nie altyd die geval was nie, “Dit is nou beter om skool toe te gaan, maar dit was nie altyd so nie. Ek was baie opgewonde om na die Oktobervakansie terug te gaan skool toe, maar toe my ma my die middag by die skool kom haal het, was ek baie hartseer, want die kinders was lelik met my en het my gespot. Hulle het my ‘Janu rooigesig’ genoem en gesê dat ek te vet is om atletiek te doen”. Hy het vir sy ma genoem dat hierdie tipe gedrag hom laat voel asof hy nie goed genoeg is nie.

Janu van Heerden is mal daaroor om saam met sy maats by die skool te wees. Foto: Adéle Bloem.

Dit is ook dieselfde dag wat Gracelle besef het dat Janu elke dag uitdagings en struikelblokke ervaar, en sy het gesê, “Ons moet beklemtoon dat Janu in ‘n wonderlike skool is wat nie boeliegedrag duld nie, en die ondersteuning wat ons by die skool kry is ongelooflik! Maar, die realiteit is dat ouers hulle kinders moet leer om meer empatie en simpatie te hê, want boelies word by die huis gebore.”

Janu van Heerden is mal daaroor om saam met sy maats by die skool te wees. Foto: Adéle Bloem.

Janu het vertel dat sy gunsteling superheld Spiderman is, “Ek hou van die webs wat hy by sy gewrigte uitspuit en dat hy teen mure kan opklim en deur die lug swaai, maar, hy is my gunsteling, want hy is nie bang om ander mense te help nie.” En, net soos sy gunstelingheld, sal Janu ook nie skroom om vir ander op te staan nie, en hy het gesê, “Wanneer ek sien dat ‘n ander kind geboelie word, sal ek na die kinders toe gaan wat dit doen en vir hulle sê om op te hou en nie met die kind te baklei of lelik te wees nie, want dit is nie nodig nie”.

Hy het ook onlangs ‘n videoboodskap van Jo Black, die gewilde Afrikaanse sanger ontvang, wat hom met ‘n groot glimlag en hope inspirasie gelaat het, en Janu het opgewonde vertel, “Dit is vir my makliker om elke dag aan tepak, want Oom Jo het vir my gesê ek is ‘n legend en ‘n held, want ek gee nie op nie en ek help altyd ander, al help hulle my nie altyd nie!”

Janu sien nie homself as ‘n held nie, en is vas oortuig dat hy net ‘n doodgewone seun is. Sy gustelingliedjie is This is Me van The Greatest Showman, en die boodskap wat hy aan elkeen daar buite wil gee is, “Ek is Janu, en ja, ek het ‘n geboortevlek op my gesig, maar al wat ek vra is, kyk verby die vlek en leer my ken – this is me!”

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button