EntertainmentLifestyleLocal news

Plaaslike skoonheid wil ‘n verskil maak

'Die hoofrede vir my deelname is omdat Mev Heelal Suid-Afrika gaan oor vrouebemagtiging en dit lê baie na aan my hart.'

Plaaslike skoonheid, Liza le Roux is opgewonde om aan te kondig dat sy op 8 Oktober as een van die 24 Mevrou Heelal semifinaliste aangekondig is.

Alhoewel Liza, 36, ‘n gebore en getoë Krugersdorper is, woon sy vir die afgelope jaar in Witpoortjie. Sy is ‘n trotse ma van ‘n 17-jarige dogter en nege-jarige seun en meen hulle is hul ma se hartklop.

Volgens Liza het sy as tiener aan Hoërskool Jan de Klerk se Mnr en Mej Jannas deelgeneem, maar is opgewonde om die skoonheidskompetisiewêreld op ‘n groter platform te betree.

“Ek wou nog altyd deelneem maar het nog nooit die selfvertroue gehad om te probeer nie. Ek het nou uiteindelik die kans gewaag en tot my verbasing is ek nou ’n semifinalis – ‘Magic starts when you step out of your comfort zone’,” het sy vertel.

“Die hoofrede vir my deelname is omdat Mev Heelal Suid-Afrika gaan oor vrouebemagtiging en dit lê baie na aan my hart. Ek het ingeskryf met die doelwit om ‘n verskil te maak en om ‘n rolmodel en leier vir ander vrouens te kan wees. Ek wil ‘n verskil maak en die verskil wees!”

Die passievolle semifinalis het tot dusver twee projekte in die pyplyn. Die eerste projek behels ‘n funksie saam met Pixie Pink met die doel om die gemeenskap bewus te maak van kindermishandeling. Liza hoop om saam met die organisasie ‘n stem te wees vir die onskuldige slagoffers.

Die tweede projek behels ‘n fondsinsameling en ‘vrouedag’ vir mishandelde vroue. Liza beoog om op die betrokke vrouens se selfbeeld te fokus om sodoende hul selfvertroue ‘n hupstoot te gee.

“Ek voel ons as vroue besef nie regtig hoe spesiaal vrou-wees is nie en dat jy as vrou nooit ooit enige iets minder as die heel beste moet aanvaar nie.
Dis nog net twee projekte van baie meer wat ek gaan aanpak en ‘n sukses van gaan maak,” het sy vertel.

Indien jy meer wil uitvind oor Liza se Mev Heelal Suid-Afrika reis en hoe jy haar kan ondersteun, besoek gerus haar Facebook-blad, Liza le Roux – Mrs Universe South Africa semifinalist 2022.

Volgens Liza sal die finaliste na verwagting in Maart volgende jaar aangekondig word.

“Ek wil dankie se aan elkeen wat my aangemoedig het om die stap te vat, elkeen wat my ondersteun, elkeen wat in my glo, elkeen wat saam my die reis aanpak,” het sy ten slotte vertel.

Liza le Roux is opgewonde vir die reis wat voorlê.

Related Articles

Back to top button