Bejaardes kan nou blaas vir hulp

Solidariteit Helpende Hand het deur hul gemeenskapsontleding gevind dat eensaamheid die grootste probleem is wat bejaardes in die oog staar.

Solidaritet Helpende Hand se Roodepoort-tak in samewerking met Onsplek Horison het op Saterdag, 8 Oktober ‘n spesiale besoek by drie plaaslike bejaarde tehuise afgelê.

Volgens Ivana Meyer van Onsplek Horison het hul met die fluitjie projek vorendag gekom toe ‘n bejaarde inwoner van die Klein Helderkruin Sentrum geval het, maar nie in staat was om om hulp te skreeu nie.

“’n Bejaarde man het ons vertel dat sy vrou geval het toe sy alleen by die huis was. Sy kon op daardie stadium nie skreeu vir hulp of loop om iemand se aandag te kry nie,” het Ivana vertel.

“Daarom het ons ‘n paar bejaarde tehuise gekontak om te hoor of daar ‘n nood sou wees vir fluitjies en of dit ‘n verskil sou maak. Almal het gesê daar is wel ‘n nood daarvoor en dat die inwoners dit graag sal wil hê.”

Hulle het dus op die dag vir Resedentia Ons Huis Florida, Floroma Tehuis vir Bejaardes en Klein Helderkruin Sentrum gaan kuier. Nadat die fluitjies uitgedeel was, was daar aan die inwoners gedemonstreer hoe om dit te gebruik deur middel van ‘n opwindende vertoning deur die Onsplek Horison naskoolkinders.

Volgens Bennie Meyer van die Roodepoort-tak was die doel van die vertoning ook om die kinders van kleins af te leer oor gemeenskapsontwikkeling en bejaardesorg.

Floroma en Resedentia Ons Huis was boonop bederf met pragtige skootkombersies vir die koeler aande.

“Dié komberse vorm deel van een van ons vorige projekte waar ons skoolkinders gevra het om gebreide of gehekelde blokkies skool toe te bring. Ons het die blokkies toe na tehuise geneem sodat die inwoners dit aanmekaar kan heg om uiteindelik heel komberse te vorm,” het Bennie vertel.

“Nie net het die kinders nuwe vaardighede aangeleer nie, maar die bejaardes het die geleentheid gehad om ‘n nuwe projek aan te pak waarmee hulle hulself kon geniet en mee besig bly. Ons glo dit bou die gemeenskap deur goedhartige projekte vir mekaar te doen.”

Solidariteit Helpende Hand het deur hul gemeenskapsontleding gevind dat eensaamheid die grootste probleem is wat bejaardes in die oog staar. Ivana en Bennie meen dis waarom hul so baie projekte aan die bejaardes toewy en graag spring om die verskeie behoeftes te vul.

Die Solidariteit Helpende Hand vrywilligers is van mening dat die bejaarde inwoners baie gelukkig was met die besoek en het die vertonings ook baie geniet. Daar was ook lekker gesels en groot deelname aan die aktiwiteite van die dag.

Charlotte Norman, Mumsie Pillay en Cheryl Pietersen weet wat om te doen in ‘n noodgeval. Foto: Alanicka Lotriet.
Johan Coffee, Tilla Robbetze, Elaine van der Kuil en sentrum voorsitter, Gaby Richardson. Foto: Alanicka Lotriet.
Johan Coffee saam met Bennie en Ivana Meyer. Foto: Alanicka Lotriet.
Melissa Vogel, Ivana Meyer, Ashleigh en Zander Vogel. Foto: Alanicka Lotriet.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version