EntertainmentLocal news

Dwayne Griffin stel sy derde enkelsnit vry

Dwayne Griffin voer mens mee met sy splinternuwe enkelsnit.

Met die suksesvolle vrystelling van sy eerste twee enkelsnitte, Soos Die Seisoene en Het Jy Geweet het Dwayne Griffin reeds diep in die harte van Afrikaanse musiek-aanhangers gekruip. Nou is hierdie twintigjarige gereed om gehore na ander wêrelde te neem met sy derde solo-enkelsnit, Stilbaai se Strand.

Die liedjie kan beskryf word as ‘n kontemporêre Afrikaanse enkelsnit wat luisteraars uit die realiteit neem en laat ontsnap na hul eie fantasiewêreld of hul gelukkige plek. Dit is vir Griffin belangrik dat luisteraars besef dat dié wêreld slegs een tree weg is van die werklikheid.

“Hierdie liedjie is geïnspireer deur ‘n lewensverhaal wat ek gehoor het van ‘n familielid wat vir 20 jaar lank elke Desember in Stilbaai gaan vakansie hou het. Sy was egter hartgebroke toe haar pa vier jaar gelede oorlede is, en het eers weer verlede jaar Stilbaai toe gegaan om afskeid te neem,” het Griffin vertel.

“Al het sy afskeid geneem sal sy altyd die spesiale herinneringe koester wat hulle daar gemaak het. Ek praat dus van Ek is nog nie reg om Stilbaai se strand te groet in my liedjie – net om te sê jy kan dit ontsnap, maar jy kan nie daarvan weghardloop nie.”

Alhoewel, hy sing van ‘Ek’, was Griffin nog nooit self in Stilbaai nie, maar hy glo die publiek gaan beslis aanklank vind by die snit omdat almal hul eie fantasiewêreld of gelukkige plek het om na te vlug – of dit nou die bosveld, see, kampterrein, dam of sommer net ‘n stiltydjie vir hulself is.

Griffin het verder vertel dat die liedjie veronderstel is om vir elkeen wat daarna luister ‘n unieke betekenis te hê sodat hulle hul met die boodskap kan vereenselwig.

Al is hy nog net twee jaar amptelik in die musiekbedryf, is hy beslis nie ‘n groentjie wanneer dit by musiek kom nie en het al op die ouderdom van 12 ernstig daaroor begin raak. Hy was boonop medeskrywer van die temalied van die Staan Sterk in Afrikaans Konsert wat deur onafhanklike kunstenaars op die been gebring is.

Griffin geniet en sing ’n wye verskeidenheid genres, wat wissel van country en rock tot Afrikaans en pop, en sal graag nog eendag saam met Ruhan du Toit en Riana Nel wil werk.

Dié veelsydige kunstenaar beskou homself as baie kreatief en hou daarvan om homself op verskeie maniere uit te druk. Daarom hou hy homself in sy vrye tyd graag besig met grafiese ontwerpe.

“Ek en my span is op die oomblik hard besig om aan my eerste album te werk, wat ek graag volgende jaar wil vrystel. Luisteraars kan uitsien na oorspronklike musiek, asook my weergawes van bekende liedjies. So kan hulle my as kunstenaar beter leer ken,” het hy vertel.

Hy was nog altyd vasberade om sy musiek op die radio te hoor en voel bevoorreg om reeds sy derde enkelsnit agter sy naam te hê. Daar is egter nog baie wat dié passievolle kunstenaar wil bereik en met ’n liedjie soos Stilbaai Se Strand is hy beslis op die regte pad.

Sy enkelsnit is nou beskikbaar op Apple Music, iTunes, Spotify, YouTube, Deezer, Amazon Music en meer.
Laai dit gerus hier af: https://dwaynegriffin.ampl.ink/StilbaaiSeStrand.

Dwayne Griffin is passievol oor sy musiekloopbaan.
Dwayne Griffin is passievol oor sy musiekloopbaan.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button