Klein seun, groot impak

'Ek wil hê ander kinders moet ook gelukkig wees en nie honger ly nie.'

Laerskool Dr Havinga leerder, Willem Coetzee is bewyse dat dinamiet in klein pakkies kom. Al het die jong seun eers onlangs die skoonheidskompetisiewêreld betree, het hy reeds groot opslae gemaak.

Dié agt-jarige was nog altyd passievol daaroor om ander te help en deur aan te sluit by die Infinity Pageant groep, het dit hom in staat gestel om juis dit te doen. Willem was opgewonde om by die organisasie aan te sluit omdat hul geweldig klem lê op gemeenskapsdiens.

Alhoewel hy as ‘n tipise seun – wat hou van boomklim en buite speel – beskou kan word, het hy groot drome en doelwitte.

“Ek wil graag mense help. Ek wil hê ander kinders moet ook gelukkig wees en nie honger ly nie. Dit maak my ook hartseer om te dink dat daar kinders is wat dalk nie eers ‘n speelding het om mee te speel nie,” het Willem vertel.

Dit kom dus as geen verrassing nie dat Willem al verskeie projekte agter die rug het. Die projekte sluit in ‘n potloodinsameling vir minderbevoorregte Havies, klere-insamelings vir Rainbow Haven en ‘n fondsinsameling wat ses matrikulante in staat te stel om hul matriekafskeid by te woon. Hy het ook ‘n paar mammas en pappas vir Moeders- en Vadersdag bederf en het selfs ‘n spesiale besoek by die Witpoortjie Mediese Sentrum afgelê.

Hy is ook op die oomblik besig met ongeveer vyf projekte wat die volgende insluit:
• ‘Bags of Hope’ – Sop pakkies wat aan minderbevoorregte families in die gemeenskap uitgedeel word.
• ‘Boys and their Toys’ – Om speelgoed in te samel en vir seuns op straat uit te deel.
• ‘Spin the Wheel’ – Deelnemers staan die kans om ‘n sagte speelding te wen terwyl die opbrengste gebruik sal word om uitdraaikruite vir minderbevoorregte Havies in te samel.
• ‘Help a Child, Donate a Book’ – Om vir die kinders by Rainbow Haven leesboeke in te samel en met ‘n leeshoekie toe te rus.
• ‘Keep our Elderly Warm’ – Om komberse vir die bejaardes in te samel.

Hy is onlangs as Mnr en Mej Havie Junior se Eerste Prins gekroon en is ook as finalis vir die gesogte Mnr en Mej Krugersdorp Petite skoonheidskompetisie aangekondig.

Willem glo dat alhoewel hy ‘n klein seuntjie is, hy ‘n baie groot verskil kan maak. Hy wil graag ander kinders inspireer om ‘n beter toekoms vir hulself te skep. Hy meen hulle kan dit reg kry deur ‘n kultuur van liefde en omgee vir hul medemens te skep.

Indien jy meer wil weet oor Willem se projekte, of as jy ‘n bydrae wil maak, skakel sy ma, Chantell op 061 437 4671.

Willem Coetzee wil graag ‘n verskil maak. Foto: Alanicka Lotriet.
Willem Coetzee wil graag ‘n verskil maak. Foto: Alanicka Lotriet.
Exit mobile version