NG Kerk Culembeeck hou potjiekoskompetisie

Daar kon egter net een potjiekoswenner wees, en dit is niemand anders nie as...

Die NG Kerk Culembeeck het daarna uitgesien om op Saterdag, 24 September hul erfenis te vier toe hulle ‘n potjiekoskompetisie gehou het.

Alhoewel pandemie-inperkings die gemeente vorige jare verhoed het om so ‘n geleentheid aan te bied, het dominee Stian Bloem vertel dat dit ‘n prettige tradisie is wat hulle graag elke jaar wil voortsit.

Ses bobaaskokke het hul potjiekosresepte op die proef gestel. Daar was ‘n hoenderpootpotjie, beesstertpotjie, hoenderpotjie, bees dumpling-potjie en twee skaappotjies.

Beoordelaars Chantelle Kent en Lizette Bloem was vreeslik gretig om elke potjie te beproef. Maar, daar kon egter net een wenner wees, en dit is niemand anders nie as Andries Erasmus met sy topgehalte-skaappotjie.

Volgens ds Bloem wat die geleentheid georganiseer het, was die eintlike doel vir die gemeente om net lekker saam te kuier en om nuwe mense te ontmoet en te leer ken.

“Ons sien regdeur die Nuwe Testament dat Jesus gereeld saam met mense om ‘n etenstafel gekuier het. Met Erfenisdag in gedagte dink ek dit is ‘n gebruik wat ons as gelowiges nie net moet vier nie maar ook meer moet deel maak van ons lewe; ‘n gebruik om die lewe met ander mense te deel,” het Ds Bloem ten slotte vertel.

Hy bedank ook almal wat deel was van die dag, en bygedra het tot die sukses van die geleentheid.

Twee van die deelnemers geniet die geleentheid. Foto: Alanicka Lotriet.
Daar word te lekker gesmul aan die verskeie potjies.
Ds Stian Bloem saam met sy vrou, Lizette en hul twee kinders. Foto: Alanicka Lotriet.
Exit mobile version