65 Jaar van geloof en liefde

Saam vanaf die jeugbediening tot by die aftreeoord en steeds net so gelukkig.

Danie en Maureen Ackermann het op 16-jarige ouderdom in Belville, Kaapstad, by die kerk se jeugbediening ontmoet en vyf jaar later, op 8 Maart, getrou.

Na 65 jaar van besondere geluk, is hulle steeds net so gelukkig soos die dag wat hulle getroud is.

Hulle dogter Rykie Jooste, het vertel, “Hulle groot geheim vir hierdie besondere mylpaal, is hulle geloof en vaste vertroue in hul Hemelse Vader, hulle liefde vir mekaar – hulle is tot vandag toe, steeds mekaar se beste maats, en was vir ons kinders die rolmodelle van ware huweliksgeluk. Hulle het soveel dinge saam aangepak, hulle het saam tennis en toe ook rolbal gespeel tot onlangs, gekamp, gehengel, staptogte en oorseese toere aangepak, Hulle het altyd besig gebly, en werk steeds saam in hul baie mooi tuin, en is steeds aktief betrokke by hul kerk se aktiwiteite. Hulle het altyd gestreef sover moonlik om fiks en gesond te bly.”

In 1965 het Danie en Maureen na Roodepoort verhuis, waar hulle hul drie kinders grootgemaak het en tot vandag toe in die Kruinpark Aftree-oord woon.

Maureen en Danie Ackermann nou. Photot: Supllied.

“Hulle is waarlik twee voortreflike mense en ons wil vir hulle baie, baie geluk sê, met hulle baie spesiale prestasie om saam hulle 65ste huweliksherdenking te kan vier. Ons bid hulle nog baie geseënde jare saam toe,” het Rykie afgesluit.

Exit mobile version