Dr Havinga vier 70 jaar!

"Ons skool het op 7 Januarie 1953 geopen met sewe personeellede en 210 leerders, vandag [70 jaar later] staan ons 1 360 leerders sterk."

‘n Skare van kinders in rooi geklee, spierwit posduiwe en selfs ‘n vlieënde hommeltuig of twee was teenwoordig by Laerskool Dr Havinga se 70ste verjaarsdagvieringe op Dinsdag, 14 Februarie.

Cecilia Janse van Vuuren en Ciara Venter het wawiele gedans by die verjaarsdagvieringe.

Die afwagting was tasbaar, met leerders van graad R tot 7 al giggelend in ‘n groot 70 gerangskik.

Havies se hoof, Marius Swanepoel, het die oggend geopen met ‘n hartlike Havie-verwelkoming, sowel as ‘n vinnige geskiedenisles oor wat die afgelope 70 jaar gebeur het.

“Ons skool het op 7 Januarie 1953 geopen met sewe personeellede en 210 leerders, vandag staan ons 1 360 leerders sterk,” het hy verduidelik.

Ciara Venter en Cecilia Janse van Vuuren.

Hy het ook genoem dat die ding wat verjaarsdae so kosbaar maak eintlik die mense saam wie jy dit vier is, en sodoende glo hy dat Dr Havinga se 70ste verjaarsdag baie spesiaal is omdat hy dit saam met die personeel, beheerliggaam en leerders kon vier.

Die oggend was afgesluit met ‘n heerlike verjaarsdagkoek vir die personeel en kolwyntjies vir die leerders. Die leerders het die geleentheid gehad om hulle skool se verjaarsdag te vier met ‘n piekniek op die skoolveld.

Exit mobile version