Ek word geboelie, wat nou?

As jy, of iemand wat jy ken, 'n slagoffer van boelies is, moenie bang wees nie, kry hier hulp.

Alhoewel boelies en boeliegedrag deesdae ‘n algemene verskynsel is, is dit ook waar dat meeste slagoffers, asook hul ouers, nie seker is waarheen om te gaan vir hulp nie, wat in baie gevalle tot noodlottige situasies kan lei.

Die Record het onlangs van Janu van Heerden se situasie vertel, en, nadat die Record met Janu en sy ouers gesels het, was dit duidelik dat daar ‘n behoefte by ouers, kinders en selfs die een wat boelie is, oor hoe om boeliegedrag te identifiseer, hoe om te weet of jou kind ‘n slagoffer is en waar om hulp te kry.

Janu van Heerden. Foto: Adéle Bloem.

Lees ook: https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2022/11/03/ek-is-nie-n-held-nie-net-n-doodgewone-ou-oppas-wat-jy-s-jou-woorde-maak-seer-hier-is-ek-my-naam-is-janu/

Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap het die volgende gedeel:

Wat is die tekens waarvoor ouers moet uitkyk om te bepaal of hulle kinders geboelie word?
Die volgende tekens kan daarop dui dat jou kind geboelie word; hy/ sy is ongewillig om skool toe te gaan, verandering in slaappatrone (slaap meer as gewoonlik of sukkel om te slaap), verandering in geaardheid (is buierig waar hulle voorheen vriendelik en toeganklik was), vriendverskuiwings, akademiese punte wat daal, onverklaarbare beserings soos kneusplekke, snye en krapmerke, verlies aan eetlus/ verandering in eetgewoontes.

Die boonste waarskuwingstekens kan aandui dat jou kind ’n slagoffer van afknouery is, maar dit kan ook tekens van ander vorme van mishandeling wees dus moet ouers met skoolpersoneel en ook met hul kinders praat wanneer enige van hierdie tekens by kinders voorkom.

Wat kan ouers doen om te help?
Wanneer jy met jou kind gesels hoef jy nie reguit daaroor uit te vra, jy kan byvoorbeeld die volgende vrae vra:

• Daar is deesdae nogal baie berigte oor afknouery. Is daar afknouery by jou skool?
• Ek is bietjie bekommerd oor jou. Is daar enige kinders in jou klas/ skool wat jou dalk moeilikheid gee of wat jou afknou?
• Word jy dalk deur kinders in jou skool gespot?

Lees ook: https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2022/11/07/ons-wil-net-ons-kinders-gelukkig-sien-dit-is-elke-ouer-se-droom-om-sy-kind-gelukkig-te-sien-ons-kinders-se-geluk-is-baie-belangrik/

AfriForum se teenboelie-span tydens ‘n vertonng by ‘n skool. Foto’s: Verskaf.

As jou kind die een is wat boelie, waarvoor kyk jy as ouer uit en hoe help jy?
Wanneer jou kind die boelie is, is dit ouers se plig om hom/ haar daarvan bewus te maak dat dit volkome ontoelaatbaar is. Jy kan die volgende vir jou kind vertel:

• “Jy kan nie tyd saam met kinders deurbring wat ander afknou nie.”
• Dat ’n ander volwassene sal toesig hou oor hom/ haar. “Wanneer ander kinders by ons huis kom speel, moet julle speel waar ek julle kan sien.”
• Om weg te bly van die kind/ kinders wat hulle afgeknou het.

As jy geboelie word, wat moet jy doen?
Boelie/ afknouery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller. Sodra hy agterkom dat hierdie skadelike/ aggressiewe gedrag op ’n aanhoudende wyse plaasvind, moet ’n kind dadelik dit by die onderwyser rapporteer. Dit is belangrik om proaktief op te tree en om hierdie gedrag hok te slaan voordat dit erger word.

As jy die boelie is, waar gaan jy om hulp te kry?
Baie kinders weet nie eers altyd dat hulle iemand boelie nie, maar indien hulle in hul harte weet dat hulle boelies is, is dit belangrik vir hulle om met iemand daaroor te kan gesels. Kinders is nog nie altyd emosioneel volwasse om self daardie hulp te soek nie, daarom is die leiding van ’n ouer/ voog/ betroubare volwassene belangrik. Dit begin by die ouerhuise eerstens. Kinders moet ’n ouer genoeg vertrou en weet dat hulle ouers hulle altyd sal bystaan, selfs al doen hulle verkeerd. Ander oplossings is om met ’n onderwyser of met die skool se sielkundige/ berader te gesels. Dit is belangrik om saam met ’n kind te werk om die nodige remedies te kry om boelie gedrag hok te slaan. Hierdie betroubare volwassene sal dan agter die kap van die byl moet kom oor waarom die kind moontlik ander boelie. Dit is belangrik om die oorsaak van boeliegedrag te stop.

Hoe help jy, as ouer, jou kind om nie ‘n boelie te wees nie?
Ouers is die primêre opvoeder van ’n kind en ’n onderwyser is die sekondêre opvoeder. Dit is belangrik vir ’n ouers om oop en eerlik met hul kinders te wees. Die realiteit is dat boelie altyd daar gaan wees en dat dit nodig is om proaktief op te tree. Eendag as hierdie kinders volwasse is, gaan boeliegedrag steeds daar wees.

Leer jou kind empatie – dit sal jou kind help (ook met emosionele intilligensie) om hulself in ander se skoene te plaas en sodat hulle moet besef dat jy ander mense moet behandel soos wat jy graag behandel wil word (die goue reël).

Lees ook: https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2022/11/07/sturge-weber-sindroom-hier-is-wat-jy-moet-weet-wat-is-sturge-weber-sindroom-sturge-weber-sindroom-dit-is-hoekom-ek-anders-lyk/

Leandie het ook die volgende statistieke, wat met boelie en boeliegedrag verband hou, gedeel:
Jaarliks word 57% leerders in Suid-Afrika geboelie, 52% leerders sien boeliegedrag as verbaal, 22% sien dit as fisies (soos skop, slaan, ens.). In Suid-Afrika is 9% van tienersterftes as gevolg van selfdood en volgens die South African Depression and Anxiety Group (SADAG) het 20% leerders al probeer om hulle eie lewens te neem.

Vir meer inligting kan AfriForum se teenboeliegids gratis aflaai word by https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/2021/09/Teenboeliegids.pdf

#DieValFilm is ’n film vir tieners wat bewusmaking skep rondom boeliegedrag en selfdood en is gratis op AfriForumTV beskikbaar by www.afriforumtv.co.za.

Dit is baie belangrik dat kinders wat geboelie word, nie stilbly daaroor nie en aangemoedig word om hulp te kry, hetsy by hul onderwysers of ouers, maar, in dieselfde asem is dit nét so belangrik vir die kind wat boelie, om ook hulp en ondersteuning te kry.

Vir nog inligiting oor hoe om hierdie gedrag hok te slaan en hulp te kry besoek gerus die volgende webtuistes:

• SADAG – https://www.sadag.org/ of skakel hulle op 0800 567 567
• Childline SA – https://www.childlinesa.org.za/ of skakel hulle op 116 (gratis op alle selfoon netwerke)

Exit mobile version