Dit is elke ouer se droom om sy kind gelukkig te sien

Liefde en empatie is twee eienskappe wat beslis die wêreld 'n beter plek kan maak.

Daar is geen groter liefde as ouerliefde nie; ‘n ma en pa sal enigiets in hulle vermoë doen om hulle kinders gelukkig te sien, en, vir die Van Heerden-gesin, is dit beslis die geval.

Dit is duidelik met die intrapslag dat die huis gevul is met baie liefde en lag, iets wat nie as ‘n groot verrassing kom nie, aangesien daar drie seuns daar bly.

Phillip, Janu en Luhan van Heerden.

“Die dae kan beslis heel chaoties raak met die drie saam, maar, ons sal dit nie anders wil hê nie!” het Gracelle van Heerden laggend vertel. Alhoewel die huis grootliks ‘n huis vol gelukkige, laggende en vrolike seuns is, het ‘n onlangse insident ‘n bietjie van ‘n demper op daardie geluk geplaas.

Gracelle het vertel dat haar seuns baie opgewonde was om na die Oktobervakansie terug te keer skool toe, maar dié opgewondenheid was van korte duur.

“My mamma-hart het gesink toe my negejarige seun, Janu in die kar klim na skool, en in trane uitbars, terwyl hy my vertel dat hy geboelie word oor die rooi vlek wat hy op sy gesig het. Hy het gesê die maatjies se woorde maak sy hartjie binne seer en dat hy nie meer wil skool toe gaan nie.”

Janu van Heerden.

Lees ook: https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2022/11/03/ek-is-nie-n-held-nie-net-n-doodgewone-ou-oppas-wat-jy-s-jou-woorde-maak-seer-hier-is-ek-my-naam-is-janu/

Gracelle het besluit om ‘n plasing op 11 Oktober, op haar Facebook-blad te maak; ‘n plasing wat 3 000 maal gedeel is en 1 500 opmerkings gekry het.

Skermgreep van Gracelle van Heerden se Facebook-plasing.

Sien plasing hier: https://www.facebook.com/gracelle.heerden/posts/pfbid0AhNHRx2ffBBQ1eGXZi6ojc8ENWVSECw55f98kvL2xqTpbKV3id4YKbeubVFR8y8Dl

Sy het vertel dat sy tydens haar swangerskap baie opgewonde was om vir Janu te ontmoet.

“Ek onthou dat die kraamsaal vir ‘n oomblik stil geraak het na sy geboorte, en, alhoewel ek gehoor het hulle praat van ‘n vlek op sy gesig, kon ek dit nie sien terwyl hy in my arms gelê het nie, want liefde is blind.”

Die geboortevlek word ‘n port wine stain genoem, en Gracelle het verduidelik, “Die dokters het Janu vir Sturge-Weber- sindroom getoets; toetse wat behels het dat hy elke ses maande vir ‘n MRI skandering moes gaan, maar, net na sy eerste verjaardag, het die dokter bevestig dat die skandering skoon is en dat hy nié Sturge-Weber-sindroom het nie.”

Alles het in Maart hierdie jaar verander toe Janu gedisoriënteerd in hulle slaapkamer in gekom het, en Gracelle het vertel,

“Ek het geweet iets groot is fout en het vir ons het Janu hospitaal toe gevat. Toe die dokters die CT skandering doen, het ek ‘n wit kol op gesien en die eerste ding wat ek gedink het was dat dit kanker is. Ons het op die ongevalle-afdeling se vloer gesit en huil en onophoudelik gebid; dit het gevoel of ek 20 jaar ouer geword het. Hy is met Sturge-Weber-sindroom (‘n neurologiese kondisie), asook gloukoom in die oog waar die vlek is, gediagnoseer en ondergaan steeds gereelde mediese ondersoeke, omdat mikro-bloeding kan ontstaan indien hy net sy kop sou stamp. Hy is ook met epilepsie gediagnoseer, maar hy het nog nie aanvalle ervaar nie”.

Jaco, Janu se pa, het gesê dat hy glo dat kinders wat boelie, dit gewoonlik doen omdat hy of sy ook na liefde, aandag en aanvaarding smag en het gesê, “Ek glo ons moet ophou om hierdie outjies te label as boelies, hulle het net liefde en leiding van hulle ouers af nodig. Ouers moet hulle kinders lei om lief te wees vir hulleself, en ook vir hulle maats, al lyk hulle anders. Ons is almal so besig om te baklei vir net ‘n stukkie son, dat ons vergeet om mekaar lief te hê.”

Gracelle het afgesluit, “Dit is onregverdig dat Janu geboelie word oor iets waaroor hy geen beheer het nie, en nog leer om te verstaan. Ouers moet hulle kinders leer dat woorde seer maak en nie terug getrek kan word nie, en ook partykeer baie slegte nagevolge kan hê.

“Leer jou kinders dat, wanneer jou maatjie ‘anders’ as jy lyk, om nie vinger te wys of te spot nie, maar eerder te vra en dan ook die geleentheid te hê om te leer. Onthou, as jy nie iets goed het om te sê nie, bly eerder stil!”

Exit mobile version