Paartjie vier halfeeu saam

'Enige huwelik is soos die weer. Die son gaan nie elke dag skyn nie, en daar gaan soms donderstorms wees.'

Plaaslike paartjie, Piet en Bets Kotze vier vandag, Woensdag 5 Oktober hul 50ste huweliksherdenking.

Betsie en Piet Kotze.

Piet, 70, en Betsie, 68, het in dié halfeeu al vele sakke sout opgeëet, maar het gesê die moeilike dinge in die lewe het hulle net nader aan mekaar gebring.

“Ons was saam op skool in Maraisburg, maar ek het oorspronklik nie regtig van Betsie gehou nie. Dit was eers jare later toe ek haar leer ken het dat ek besef het dat sy my trouvrou is,” het Piet laggend vertel.

Volgens Piet is hy na skool weermag toe, en was in die proses om ‘n voertuig te koop met sy terugkoms. Min het hy geweet dat sy toekomstige vrou vir hom in die huis langs die verkoper wag.

“Sy het my by haar buurman gesien en my genooi om te kom kuier. Nodeloos om te sê, ons lewenspaadjie het daardie aand begin,” het hy vertel.

Die paartjie het vir twee jaar uitgegaan voor hulle in die huwelik getree het. Hulle spog vandag met vier kinders, vyf pragtige kleinkinders en een dierbare agterkleinkind.

Alhoewel die huwelik nie kinderspeletjies is nie, glo Piet dis belangrik om altyd positief te bly en mekaar aan te moedig. Hy meen die geheim vir ‘n gelukkige huwelik is liefde, positiwiteit en geduld.

“Enige huwelik is soos die weer. Die son gaan nie elke dag skyn nie, en daar gaan soms donderstorms wees. Ek moet wel sê dat die afgelope 50 jaar baie lekker saam met my bruidjie was. Ons het 50 jaar gelede ‘n belofte aan mekaar gemaak, en ek beplan om daardie belofte vir nog baie jare te hou,” het hy ten slotte vertel.

Exit mobile version