Inni-Horie Fees ‘n groot sukses

Met die oog op die fees het die skool reeds 'n week voor die tyd die gees onder die leerders aangewakker deur verskeie pretaktiwiteite aan te bied.

Met die kenmerkende reuke van sonskerm, roomys en rooi koeldrank in die lug het Laerskool Horison op Saterdag, 24 September hul derde Inni-Horie Fees aangebied.

Die twee maats geniet die springkastele saam. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens skoolwoordvoerder Annamien Smith word dié fees gewoonlik tweejaarliks gehou. Die laaste een is egter in 2018 aangebied weens die pandemie-inperkings. Nodeloos om te sê, die skool was opgewonde om vir die eerste keer in vier jaar behoorlik fees te vier.

Daniel Kirsten en Eben Vermaas loop deur die stalletjies. Foto: Alanicka Lotriet.

Met die oog op die fees het die skool reeds ‘n week voor die tyd die gees onder die leerders aangewakker deur verskeie pretaktiwiteite aan te bied. Leerders het deur die week met snaakse hare, kouse en dasse, en as hul gunsteling idoom en -superheld skool toe gegaan. Die Dinsdagaand, 20 September is hul mooistes tydens die Mnr en Mej Horie-kompetisie gekroon en hul Talentaand is die volgende aand gehou.

Maryka Davies en Claudine Bennett vang ‘n blaaskans. Foto: Alanicka Lotriet.

Die groot pret het egter eers Saterdag begin toe die fees met ‘n 5km-pretloop afgeskop het. Feesgangers kon verder kies en keur uit ‘n groot verskeidenheid markstalletjies, kosstalletjies en natuurlik ‘n tombola- en witolifanttafel.

Olivia en Odette Potgieter speel saam met Alexander Pieterse. Foto: Alanicka Lotriet.

Terwyl ouers heerlike verversings in die teetuin geniet het, kon die jonges op die talle springkastele baljaar waarvan sommiges met water en skuim gevul was. Nie eers beurtkrag kon hul entoesiasme demp nie.

Mariska en Lambertus Kruger kuier lekker saam. Foto: Alanicka Lotriet.

Daar was nie net goeie musiek wat die voete laat jeuk het nie, maar ook ‘n danskompetisie elke uur waar feesgangers met hul danspassies kon spog. Die jonger leerders was baie in hul skik toe Doddi en Bibbi vir hulle kom kuier het.

Daar was selfs ‘n spookhuis vir al die dapper muise wat gretig was om behoorlik die skrik op die lyf gejaag te word, en ook ‘n Speed Cube Challenge vir al die slimkoppe op soek na ‘n uitdaging. Verder kon leerders hul maats ‘dunk’ en kon feesgangers wat dapper genoeg was aan ‘n eet-soveel-jy-kan deel te neem, of hul vaardighede tydens ‘n braaikompetisie beproef.

Isak Gross geniet die geleentheid. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens hooforganiseerder en Junior fase-departementshoof, Lelanie van Dyk was dit ‘n suksesvolle fees wat deur oud en jonk geniet is.

“Daar was genoeg vermaak, ‘n verskeidenheid aktiwiteite en heerlike eetgoed om in almal se smaak te val. Families kon die dag saam geniet en die Horison-familie het baie lekker saamgekuier,” het sy vertel.

Volgens skoolhoof Deon van der Walt is hy dankbaar vir almal wat dié week moontlik gemaak het. Hy het ook elke ouer en leerder bedank vir hul ondersteuning op Saterdag.

“Daar is baie ekstra myle geloop om alles moontlik te maak tot voordeel van alle leerders van Laerskool Horison. Ek as hoof het die grootste waardering daarvoor,” het Van der Walt ten slotte vertel.

Exit mobile version