Residentia Ons Huis vier Braaidag met Boerefees

Dié fees het nie net as 'n fondsinsamelingsprojek vir dié tehuis gedien nie, maar was ook die 55ste verjaarsdagviering van Ons Huis.

Residentia Ons Huis Florida het Braaidag op ‘n gepaste wyse gevier toe hulle op Saterdag, 24 September hul eerste Boerefees gehou het.

Die gesin geniet die Boerefees gate uit. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens die verpleegdiensbestuurder en geleentheidorganiseerder by die tehuis, Wilna Dreyer is dit die eerste funskie wat sedert die pandemie-inperkings gehou is.

Soos enige goeie fees was daar heerlike tuisgemaakte kos vir feesgangers om aan te smul, asook boeresport wat die litte behoorlik losgekry het.

Chané van den Heever en Thiana van den Berg verken die stalletjies. Foto: Alanicka Lotriet.

“Die fees is gereël in samewerking met kollegas, inwoners en vriende van Residentia Ons Huis. Die hele fees was vir ons ‘n hoogtepunt – die heerlike samesyn en vrolike atmosfeer nadat ons so hard deur Covid getref is was wonderlik,” het Wilna vertel.

Dié fees het nie net as ‘n fondsinsamelingsprojek vir dié tehuis gedien nie, maar was ook die 55ste verjaarsdagviering van Ons Huis. Volgens Wilna was die gemeenskap baie nou betrokke by die spesiale geleentheid; veral plaaslike kerke was ywerig om in te spring en te help.

Mckyle (Mac) Gounden kuier lekker saam met Shimon Roberts. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ek het nie woorde nie; my hart loop oor van dankbaarheid. Hoe kan ek ooit genoeg dankie sê vir almal se bydraes, hetsy kontantskenkings, bestanddeleskenkings of selfs die fisiese inspring en help,” het sy gesê.

“En wat ‘n heerlike feesdag was dit nie. Van spitbraai, pannekoek en vetkoek tot pap en kaiings, kerrie en rys en koek – daar was iets vir almal. Ek is trots op ons mense wat so mooi saamstaan en help.”

Wilna bedank graag die kerke wat gehelp het, naamlik die Gereformeerde Kerk Ontdekkers, Gereformeerde Kerk Wilropark, die Mosaïek-gemeente asook prof Peppie en sy span.

Tredoux Engelbrecht en Roné Kock geniet die Boerefees. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ontvang dus hiermee my nederige ‘dankie’ vir ‘n ieder en ‘ elk se bydrae. Ons is ook dankbaar vir ons groot kontantskenkers, en Sonet Shields wat die musiek verskaf het vir die dag. Sonder julle hulp en ondersteuning sou ons Boerefees nie ‘n sukses kon wees nie.” het sy ten slotte vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version