Local newsNews

Roodepoort egpaar vier goue huweliksherdenking

'Vroeër jare was daar nie geld nie, so as iets gebreek het maak jy dit reg; jy koop nie 'n nuwe een nie. Dieselfde met jou huwelik'

Die resep vir ‘n suksesvolle huwelik? Om emmers vol geduld en genade vir mekaar te hê.

Dit is volgens Jakobus en Carolina van der Linde wat vandag, 2 September hul 50ste huweliksherdenking vier. Nadat die Record ‘n jaar gelede oor hul 49ste huweliksherdenking berig het, het dié paartjie se liefde vir mekaar – soos elke ander jaar – eksponensieel gegroei.

Lees meer hier: https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2021/09/12/emmers-vol-liefde-en-genade-paartjie-vier-49ste-herdenking/

Carolina het nog altyd haar man se eindelose geduld die meeste bewonder en waardeer. Vir Jacobus was dit nog altyd sy vrou se omgee-hart wat vir hom die meeste beteken het.

Carolina en Jakobus van der Linde.

“Dis haar lekker kos, en die feit dat sy nog steeds, na 50 jaar se getroude lewe my klere vir my uithaal wanneer ek gaan bad of wanneer ons weggaan vir ‘n naweek,” het hy vertel.

Alhoewel heelwat getroude paartjies dikwels ‘n eienskap of gewoonte van hul eggenoot kan uitwys wat hulle irriteer, het Jakobus en Carolina vertel dat daar nie so iets in hul huwelik is nie. Vir dié paartjie gaan dit oor aanvaarding en kompromie.

Jakobus en Carolina van der Linde.

Iets wat nog altyd vir hul drie kinders uitgestaan het, is dat die egpaar steeds onafskeidbaar is. Die een gaan nie vir ‘n naweek weg of met vakansie sonder die ander een nie.

“Nog iets wat vir ons merkwaardig en so voorbeeldig is, is dat hulle nog elke aand in hul kamer godsdiens hou. Al raak my pa op sy knieë aan die slaap sal my mamma hom geduldig wakkermaak en aangaan waar hy gestop het,” het een van hul kinders, Marie Kotze vertel.

Volgens Marie is dié verliefdes se kinders, agt kleinkinders en vyf agterkleinkinders geëerd en dankbaar om die goue huweliksherdenking saam met hulle te kan vier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button