Local newsNews

Amadéri vier Kersfees met liefdadigheid

"Ons is bevoorreg om almal te werk, kos op ons tafels te hê, en nooit honger of koud te gaan slaap nie want dit breek my hart om te weet dat daar mense is wat niks het om te eet nie, en met hierdie winter wat so koud is, dalk met een ou dun kombersie

Hierdie ma-en-dogterspan glo daaraan om terug te gee aan die gemeenskap. “Ons het so 12 jaar gelede kos en klere vir die Round Table in Krugersdorp-Wes ingesamel. Liefdadigheidswerk is iets wat ons gesin en familie na aan die hart lê. Ons het dit seker van ons ouers geërf want hulle was ook baie vrygewige mense en sou hul laaste kos weggee vir hulle wat kom kos vra het,” het Amanda van der Merwe verduidelik.

“Ons leer ook my kleinkinders om te gee sonder om iets terug te kry. Ons het al van hulle saamgeneem om vir hulle te wys hoe bevoorreg hulle is. My kleindogters is deesdae baie betrokke en sal saamgaan as ons ‘n projek het en help uitdeel. Ons het besluit om Amandèri Charity Assist-blad op Facebook te begin om sodoende meer mense te help, veral NRO’s wat nie staatsfondse ontvang nie. Ek is glad nie skaam om te bedel as dit vir ‘n goeie doel is nie.” Amanda en haar dogter Elmeri Welman wil graag ‘n verskil maak in die gemeenskappe in hul omgewing.

“Ons is bevoorreg om almal te werk, kos op ons tafels te hê, en nooit honger of koud te gaan slaap nie want dit breek my hart om te weet dat daar mense is wat niks het om te eet nie, en met hierdie winter wat so koud is, dalk met een ou dun kombersie die koue probeer verdryf,” het Amanda vertel. Hierdie jaar fokus hulle op drie projekte.

“Ons het op 16 Junie ‘n uitreik by die Old Age Village in Wentworthpark gaan doen en aan 120 bejaardes kospakkies en lekkernye uitgedeel. Dit was genoeg vir hulle vir vier dae sonder dat hulle hul eie geldjies moes gebruik om dit te koop. Ons het, met die huidige Mnr Krugersdorp Ruan Sinden se hulp en ook met dié van al ons donateurs, kombersies en mussies aan ‘n paar van die oumense gegee,” het sy gesê.

Op 10 Desember sal hulle 100 geskenksakke aan die Kinderwelsyn Krugersdorp oorhandig sodat 100 kinders se ogies op Kersdag kan blink. Hulle hou op 15 Desember ‘n kerspartytjie vir die 165 kinders van Simynueweareone Daycare waar hulle geskenksakkies, ‘n gekookte ete, poeding en koeldrank gaan gee.

Die geskenksakkies vir die twee plekke sal lekkers, vrugtesap/ koeldrankie, ‘n klapper met ‘n lekkertjie en ‘n klein verrassinkie in, springmielies, aartappelskyfies en dan ‘n Kersgeskenk bevat.

“Ons benodig nog geskenke wat nie meer as R150 elk kos nie. Daar is geskenkies vir dogters maar ons kort nog heelwat geskenke vir seuns en dogters ouer as 10 jaar,” het Amanda vertel.

As die gemeenskap wil bydrae tot die projekte kan hulle vir Amanda kontak by amanda@integralsa.co.za. “Ons hanteer ook GEEN kontant nie en sou iemand geld aanbied, versoek ons hulle om dit liewer te gebruik om dit waarvoor ons vra, aan te koop en te skenk.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button