Local newsLocal sportNewsSport

Ruann Bester beïndruk by Cravenweek

Die Graad 7 leerder is twee keer as 'Man of the Match' aangewys en is ook as die Speler van die Toernooi gekroon.

Talle maats beskou Laerskool Dr Havinga se hoofseun, Ruann Bester as hul eie Superman. Nes dié gewilde strokiesprentkarakter word Ruann se ware kragte losgelaat wanneer hy sy gewone drag verruil vir sy eie superheldkostuum – ‘n rugbytrui.

Dié graad 7-leerder het vir die eerste keer op vyfjarige ouderdom begin rugby speel en was nog nooit spyt nie.

“Dis nog altyd net lekker om na ‘n besige dag te ontspan en lekker saam met my maats rugby te speel,” het hy entoesiasties vertel.

Volgens Ruann het sy laerskoolrugbyloopbaan eers laasjaar vlamgevat toe Covid-regulasies weer sportbyeenkomste toegelaat het. Nadat hy die seisoen as agsteman vir die Goue Leeus se o.12-rugbyspan uitgedraf het, is hy gekies om deel te wees van die Red Squad waar daarop gefokus word om spelers se fiksheid en vermoë buiteseisoen te bevorder.

Ruann was van verlede November tot Februarie vanjaar by die Red Squad betrokke, en is daarna gekies vir die gesogte o.13 Goue Leeus Cravenweek-span.

Ruann Bester blink uit op die rugbyveld. Foto: Alanicka Lotriet.

Die opwindende Cravenweek-toernooi het van 26 Junie tot 1 Julie by Hoërskool Monument plaasgevind. Daar het Ruann sy hart uitgespeel en talle koppe laat draai met sy uitstekende voorspelerspel.

Hy was twee keer Man van die Wedstryd – eers teen die Oostelike Provinsie en toe weer teen die Westelike Provinsie. In totaal het 18 o.13-spanne deelgeneem, en die Goue Leeus is as die algehele wenners van die toernooi aangewys.

Uit die ongeveer 460 seuns was Ruann boonop die Speler van die Toernooi.

“My gunstelingdeel is om met die bal in my hande te kan hardloop, en om te kan tackle. Ek wil graag eendag kan hardloop soos Jonah Lomu en speel soos Duane Vermeulen,” het Ruann vertel.

Hy sien op die oomblik daarna uit om van volgende jaar af vir Hoërskool Monument rugby te speel, en ook om die skool tydens hul bekende toernooie te verteenwoordig. Die passievolle rugbyspeler hoop om in die toekoms vir die Bulle, en natuurlik die Springbokke te speel en om in die proses naam te maak as een van die beste agstemanne ooit.

“Ek is baie dankbaar vir my afrigter by Dr Havinga, Francois Pretorius wat my potensiaal raakgesien het, en my help om dit te ontwikkel. Dan wil ek ook graag dankie sê vir Monnas se bestuurder van Bemarking en Werwing, Wynand Moolman wat besluit het om ‘n kans met my te waag,” het hy vertel.

Ruann sien daarna uit om homself stewig in die rugbywêreld te vestig en sy talent nog verder te ontwikkel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button