Local newsNews

Een minder lewe vir kat wat in boom vassit

Toe die kat teen 19:00 dieselfde dag steeds in die boom gesit het, het Erica die KNP gevra vir hulp.

Die dae toe kateienaars die brandweer gebel het om hul katjies uit bome te red is lankal verby. Vandag is dit so eenvoudig soos om ‘n boodskap op ‘n gemeenskapsgroep te plaas en dan word daar sommer vinnig-vinnig plan gemaak.

JP Nel in die boom. Foto: Verskaf.

Volgens Kruin Community Voluntary Association (KCVA) se Erica Dreyer het hulle gedurende die vroeë oggendure van Donderdag, 2 Junie ‘n boodskap ontvang rakende ‘n kat wat in ‘n boom vassit.

“Hulle het hul honde onophoudelik hoor blaf en toe hulle ondersoek instel, het hulle ‘n verskrikte kat hoog in een van hul bome gesien. Hulle wou hê iemand moes die katjie kom red,” het sy vertel.

“Ek het die boodskap op verskeie KCVA-troeteldiergroepe geplaas om te hoor of iemand gewillig sou wees om te help.”

Alhoewel verskeie diereliefhebbers probeer het om die benoude gemmerkatjie te red, het almal misluk aangesien die diertjie in daardie stadium minstens ses meter van die grond af in die boom gesit het.

JP Nel in die boom. Foto: Verskaf.

Toe die kat teen 19:00 dieselfde dag steeds in die boom gesit het, het Erica die Kruin Neighbourhood Patrollers (KNP) gevra vir hulp.

“Die hoofpatrolleerder het twee toegewyde jong manne uitgestuur en teen 20:00 het JP Nel in die boom opgeklim om die arme katjie te red,” het Erika vertel. JP het toe die katjie aan sy bekommerde 14-jarige eienaar, Zarine Zietsman teruggegee. Volgens Erica kry hulle gereeld versoeke om troeteldiere in soortgelyke situasies te red, en hulle help met die grootste liefde.

Die kat in die boom. Foto: Verskaf.

“Ons is dankbaar vir die hulp en ondersteuning van die KNP-span. ‘n Katjie is gered en haar eienaar kan weer vrede in haar hart hê. Baie dankie aan almal wat betrokke was in die redding van die vierpootkind,” het sy ten slotte vertel.

Related Articles

Back to top button