Spesiale tee vir spesiale ma’s

Alhoewel Aldeia Welness Praktyk fokus op kinders se ontwikkeling het hulle dié Saterdag op die mammas gefokus

Die Aldeia Wellness Praktyk in Helderkruin het onlangs ‘n spesiale tee vir mammas met kinders met spesiale behoeftes aangebied.

Een van die ma’s voer ‘n pretaktiwiteit uit. Foto: Verskaf

Die geleentheid het op Saterdag, 14 Mei by Little Miss Muffin plaasgevind waar sewe ma’s hul stories gedeel het. Dié stories en ervarings het gehandel oor die daaglikse pligte, vreugdes en uitdagings wat gepaard gaan met die versorging van aangenome kinders sowel as kinders met onder andere outisme, gedragsprobleme, ADHD en fisiese gebreke.

Een van die ma’s voer ‘n pretaktiwiteit uit. Foto: Verskaf.

Alhoewel die bekroonde Aldeia Wellness Praktyk hoofsaaklik fokus op kinders se ontwikkeling en gedrag, het die praktyk se Sumé van Aswegen besluit om dié Saterdag op die hardwerkende mammas van dié kinders te fokus.

“Ons wou hê dat elke mamma moet besef sy’s nie alleen nie. Ander mense weet nie altyd waardeur ‘n mamma met ‘n kind met spesiale behoeftes gaan nie. Dié dag kon hulle mekaar leer ken op ‘n prettige manier en hul stories met mekaar deel,” het Sumé vertel.

“Die trane het gevloei en teen die einde van die geleentheid was almal se harte ligter. Dit was belangrik vir hulle om te weet dat daar ander mammas op dieselfde reis is, en dat hulle mekaar kan ondersteun en bystaan in moeilike tye.”

Een van die ma’s voer ‘n pretaktiwiteit uit. Foto: Verskaf.

Praktykeienaars Renaldo en Chérie Schutte bedank hiermee graag almal wat bygedra het tot die sukses van die geleentheid, en vertrou dat elke mamma daarby gebaat het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version