Local newsNews

Helpende Hand brei weer ‘n blok

Die einddoel is om dié snoesige blokkiekomberse aan instansies soos tehuise, kinderhuise en kleuterskole wat dit nodig het, te skenk.

Solidariteit Helpende Hand sien daarna uit om dié winter nie net lywe warm te hou nie, maar ook hande en breine aan die gang te hou.

Nadat die niewinsgewende organisasie ongeveer sewe jaar gelede hul Brei-/ Hekel-‘n-Blok projek laat vaar het, is nuwe lewe onlangs daarin geblaas.

“Baie bejaardes het trauma opgedoen weens Covid, en het dalk nie veel moed oor nie. Omdat baie van die tehuise tot onlangs toe nog streng inperkings toegepas het weens Covid-gevalle, het ek dié inisiatief laat herleef. Sodoende bly hul hande en gedagtes besig, terwyl hulle bydra tot ‘n goeie doel,” het Wes-Rand en Vaaldriehoek Streeksorganiseerder, Mariette van de Werken vertel.

Die einddoel is om dié snoesige blokkieskomberse aan instansies soos tehuise, kinderhuise en kleuterskole wat dit nodig het, te skenk. Volgens Mariette sal die komberse tussen 11 Solidariteit-takke oor die Wes-Rand en Vaaldriehoek verdeel word, waarna dit na verskeie instansies in nood versprei sal word.

Mariette van de Werken met een van die blokkieskomberse. Foto: Alanicka Lotriet.

“Alhoewel ons voltooide komberse verkies, sal ons nie nee sê vir die individuele blokkies nie. Daarom wil ons gemeenskapslede graag aanmoedig om ‘n tema te kies wat geskik is vir bejaardes, kleuters of babas, en hul selgroep, kollegas, aftree-oord of maats uit te daag om te kyk wie die meeste blokkies en selfs komberse kan brei,” het Mariette vertel.

“Dis nou die tyd om te fokus op ons bejaardes. Hulle het die meeste kennis en ondervinding, en daarom moet ons hulle oppas. Dis belangrik vir hulle om besig te bly.”

Alhoewel die projek hoofsaaklik op bejaardes gefokus is, kan enige iemand met breinaalde of ‘n hekelpen en wol deel word van die spesiale projek.

Vereistes vir ‘n blokkie en ‘n kombers:
• Grootte van kombers – 10 x 8 blokke (80 blokke in totaal)
• Grootte van blokke – 15 x 15cm
• Wol – Dubbeldraad (double knitting yarn)
• Breinaalde – 4mm
• Hekelpen – 4mm

Gemeenskapslede is welkom om blokkies/ komberse af te lewer by Ons Plek Horison, Hervormde Kerk, Georginastaat 34B, Horison. Indien skenkers in die Roodepoort-omgewing woon, kan skenkings ook gaan haal word. Neem in ag dat die keerdatum vir dié projek Vrydag, 3 Junie is.

Indien jy meer wil weet, skakel vir Mariette by 071 548 8013 of stuur ‘n epos na mariette@helpendehand.co.za. Bionita Mienie kan ook gekontak word by 067 035 1686 of bionita@helpendehand.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button